Dit is vir die VF Plus duidelik dat Mpumalanga se provinsiale regering nie die wetlike voorskrifte oor die toeken van tenders verstaan nie, of hom bloot nie daaraan steur nie ten einde sy sogenaamde transformasie van verskaffers deur te voer.
Tydens ‘n vergadering van die wetgewer se ekonomiese transformasie-groepkomitee het die VF Plus die ANC-lede daarop gewys dat Artikel 217 van die Grondwet bepaal dat wanneer ‘n staatsorgaan vir goedere en dienste kontrakteer, dit gedoen moet word ooreenkomstig ‘n stelsel wat regverdig, billik, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend is.
Die party het ook daarop gewys dat alhoewel die Voorkeurverkrygingswet voorsiening maak vir die toeken van tenders op grond van velkleur, dit nie gebruik mag word vir kaderverryking nie.
Volgens ‘n verslag van die ouditeur-generaal (OG) van November 2020, maak die provinsiale regering van twee verskillende markte gebruik wanneer eksklusiwiteit geskep wil word vir ondernemings om vir die regering te tender.
Die provinsie maak egter glo gebruik van ‘n markvergelyking geskep deur provinsiale amptenare en nie van markbeginsels wat op vraag en aanbod gegrond is nie.
Die VF Plus het beswaar aangeteken teen die gebruik om tenders toe te ken ver bo markverwante pryse aan dikwels onbekwame en vermoedelik korrupte ondernemings en persone.
As voorbeeld het die VF Plus sekuriteitsmaatskappye uitgewys wat deur die provinsie aangestel is om staatsbates te beveilig wat veel meer per maand verdien as die maatskappye wat teen markverwante pryse getender het.
Een van die sekuriteitsmaatskappye maak na raming R5 miljoen per maand wins met ‘n opgeblaasde tender.
Die VF Plus eis dat die provinsiale regering sy tenderproses oopstel vir alle ondernemings om volgens markverwante pryse te tender waarvan die laagte aanvaarbare tender goedgekeur en aanvaar moet word.
Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830