Die skokkende syfers oor departementele vakatures van senior bestuurders en vaardige amptenare in Mpumalanga is hierdie week in die provinsiale wetgewer se 2021/22-jaarverslae bekend gemaak.
Dit blyk dat die ANC-regering eerder sal toelaat dat regstellende aksie (RA) die provinsie se staatsdiens lamlê as om bevoegde bestuurders aan te stel.
Die groot aantal vakatures vir veral senior bestuursposte asook steundiensposte is onrusbarend.
Die 2020/21-jaarverslae van al die departemente dui aan dat die aantal aanstellings in bogenoemde geleidelik, en in sommige gevalle drasties gedaal het.
Daar is te veel staatsdepartemente en -entiteite wat geen bestuurshoof het nie, of waar die pos deur 'n tydelike persoon gevul word.
Die departemente van gesondheid, gemeenskapsveiligheid en ekonomiese ontwikkeling en toerisme het al vir maande geen departementele hoof nie. Dit lei tot onderprestasie in alle sfere van die regering.
Die departement van gemeenskapsveiligheid het tans 11 uit 28 bestuursposte wat vakant is.
Dit het ook 'n sneeubal-effek op die vul van broodnodige poste soos medici en polisieamptenare.
Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se 2020/21-jaarverslag het Mpumalanga se polisiediens slegs 9 516 personeellede, wat maar 52.5% is van die hoeveelheid wat benodig word.
Die departement van gesondheid benodig byvoorbeeld nog 521 mediese dokters.
Die VF Plus in Mpumalanga het gister tydens 'n vraag-en-antwoord-sessie in die wetgewer sy kommer uitgespreek oor die groot aantal ongevulde kritieke vakatures in die staatsdepartemente. Die VF Plus dring aan dat kritieke vakatures gevul moet word aangesien dienslewering nie kan plaasvind sonder die nodige personeel nie.
Dis nog altyd die VF Plus se standpunt dat poste gevul moet word met die beste kandidate om sodoende wanfunksionele departemente reg te ruk tot voordeel van die publiek.
Dit is dringend noodsaaklik om weg te doen met regstellende aksie (RA) en kaderontplooiing.
Die VF Plus sal voortgaan om die departemente verantwoordbaar te hou vir wanadministrasie en swak dienslewering.
Mpumalanga verdien beter as die ANC.