Dit is nie net weens die impak van die Covid-19-pandemie dat die kredietgraderingsagentskap, Moody’s Investors Services, die Tshwane-metro se kredietgradering met een vlak van Ba1 na Ba2 afgegradeer het nie.
Die afgradering is 'n groot slag vir verbruikers, aangesien dit beteken dat skuld vir kapitale projekte teen 'n hoër rentekoers aangegaan sal moet word. Die hoër rente-uitgawe sal uiteindelik na die belastingbetaler afgewentel word.
Volgens Moody’s het die metro goed gevaar onder die koalisieregering en dit word bevestig deur die feit dat die metro se kredietgradering in die tydperk telkens verhoog is. Probleme het weer snel toegeneem onder die administrateurs wat deur Gauteng se provinsiale ANC-regering aangestel is.
Moody’s het twee hoofpunte uitgewys in sy afgradering van die Tshwane-metro:
1. Afname in likiditeit en kontant beskikbaar weens Covid-19:
Die VF Plus is van mening dat gesonde finansiële-bestuur toegepas moes word, en dat nie-kernuitgawes gestaak moes word wat die kontantvoorraad sou beskerm. Kontantvoorrade was tydens die koalisie-tydperk op rekordhoogtes.
2. Politieke onstabiliteit: Moody’s wys uit dat die administrateurs wat deur die provinsiale ANC-regering aangestel is, nie die mandaat het om bepaalde kritieke besluite te kan neem nie.
Dit bevestig die VF Plus se standpunt dat die administrateurs nie in terme van die Grondwet handel nie, aangesien sekere besluite slegs deur 'n munisipale raad geneem kan word en nie deur die administrateurs nie.
Dit is duidelik dat die administrateurs in hul taak gefaal het. Die VF Plus in Pretoria is tans besig met verskeie aksies om die ANC-aangestelde administrateur tot orde te roep.
Navrae: 072 815 4053