Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mkhize moet verduidelik oor omstandighede by Livingstone Hospitaal

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sal aan Suid-Afrikaners en veral die inwoners van die Oos-Kaap moet verduidelik waarom die Covid-19-saal wat in die kelder van die Livingstone Hospitaal in Port Elizabeth ingerig is, nie gebruik kan word vir pasiënte wat nou geteister word deur ‘n skerp styging in Covid-19-voorvalle in die gebied nie.

Dit is onaanvaarbaar dat ‘n bedrag van R11 miljoen bestee is om 73 beddens in te rig terwyl positiewe Covid-pasiënte nou weggewys word omdat daar nie genoeg gesondheidswerkers is om die saal te beman nie.

Dit is niks anders nie as dobbel met menselewens en die minister moet verantwoordelikheid aanvaar vir die algehele gemors waarin dié provinsie hom tans bevind.

Vroeër vanjaar het probleme in die Oos-Kaap reeds opgeduik en die minister en die LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba, het voor die portefeuljekomitee vir gesondheid in die parlement verskyn en mooi planne voorgelê oor hoe die probleem in die provinsie behandel sou word.

Dit is egter nou duidelik dat nie die Oos-Kaapse regering of die minister daadwerklike pogings aangewend het om die probleme op te los nie.

Die sterftesyfer in dié provinsie is besig om te styg en dit kan ‘n krisis raak indien daar nie daadwerklik ingegryp word nie. Die minister moet ophou om te gryp na die hulp van Kubaanse dokters, wat ook nie orals gelyk kan wees nie, en moet die hulp begin in kry van gekwalifiseerde medici in Suid-Afrika wat tans sonder werk sit.

Dit kan die probleem van personeeltekorte vinnig verlig. ‘n Algehele inperking van die distrikte of die provinsie is ook nie ‘n opsie nie en sal lei tot opstande indien dit wel sou plaasvind.

Gesondheidswerkers is nie masjiene nie en is tans oorwerk en sal nie langer so verder kan funksioneer nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.