fbpx
Vryheidsfront Plus

Misdadigers in Suid-Afrika vrees nie meer die polisie nie

Die aanval op die polisiekantoor op Ngcobo in die Oos-Kaap dien as bewys dat misdadigers in Suid-Afrika die polisie nie meer vrees nie. Een rede hiervoor is dat daar talle misdadigers in die polisie se eie geledere is. Dit is algemeen bekend, maar niks word daaraan gedoen nie.

Dit, tesame met ‘n verval in die polisie se intelligensiestrukture, het daartoe gelei dat die polisie in Suid-Afrika homself nie eens kan beskerm nie. Gewoonlik wanneer ‘n land ‘n goeie en professionele polisiediens het, is die misdadigers bang vir die polisie en nie andersom nie.

Dit is dan ook die rede waarom lede van die publiek hulself bewapen. Om hulself te beskerm. Daarom is dit vermetel dat ‘n parlementslid soos Shaik Eman van die NFP probeer om die skuld vir aanvalle op die polisie ook op private wapeneienaars te pak.

Ek wil die nuwe minister van polisie (Bheki Cele) versoek om sonder meer ontslae te raak van die misdadigers in die polisiediens. Eers dan sal misdadigers die polisie weer begin vrees en die publiek sal die polisie weer begin vertrou.

Die groot rede waarom die polisie se intelligensiestrukture oor die laaste jare in duie gestort het, is omdat politici van die regering dit misbruik het vir partypolitieke doeleindes.

Wat by Ngcobo gebeur het, was georganiseerde misdaad. Dit was ‘n groep mense wat beplan het om ‘n polisiekantoor aan te val sonder dat die intelligensiedienste daarvan bewus was.

Het die minister al gevra vir die notules van die gemeenskapspolisiëringsforum? Ek is oortuig daarvan die gemeenskap sou op daardie vergaderings al gekla het oor die misdadigers by die betrokke kerke.

Indien dit nie gebeur het nie, sou dit beteken dat die gemeenskap die polisie in die steek gelaat het. Ek glo egter daar was klagte, en die media het ook so daaroor berig. Dit is dus duidelik dat die polisie die gemeenskap in dié geval in die steek gelaat het.

Die VF Plus salueer die goeie, hardwerkende, professionele polisielede wat selfs bereid is om hul lewe in diens van Suid-Afrika op te offer.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.