Suid-Afrika se minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, moet erken dat sy intelligensiedienste of onbevoeg is, of dat hulle doelbewus inligting verswyg het wat net in die laaste maand tot groot misdadigheid en geweldpleging in Suid-Afrika gelei het, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor staatsveiligheid.
Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat vir staatsveiligheid gesê die minister is net so in die duister oor die intelligensieprobleme van die land soos sy voorganger wat nie eens geweet het sy vrou is by dwelmhandel betrokke nie.
“Wat in die laaste maand in Suid-Afrika gebeur het, is onaanvaarbaar en is ‘n bewys van ‘n totale gebrek aan intelligensie betreffende die land se veiligheidsdienste.
“U moet Suid-Afrika om verskoning vra. Indien u wel u werk gedoen het en bewus was van die veiligheidsituasie, dan het u wetens toegelaat dat die situasie waar misdadige optrede soos plundery en brandstigting hoogty gevier het, hand uit ruk. Dan moet u strafregtelik aangekla word.
“Indien u nie daarvan geweet het nie, is dit ‘n bewys van u onbevoegdheid. U het dus ‘n keuse. Wil u jammer sê, of wil u aangekla word?
“Net so het u met die blokkering van selfoonseine tydens die staatsrede doelbewus die Grondwet van Suid-Afrika verbreek. Dit is nie selfoonseine wat die staatspresident skade aandoen nie, maar sy eie optrede.
“Daar was geen noodsaaklikheid daarvoor nie. Ek is nie bewus daarvan dat u al daarvoor om verskoning gevra het nie.
“As ons kyk na misdaad in Suid-Afrika is dit duidelik dat die intelligensiedienste, hetsy van die polisie of die staatsagentskappe of die weermag, nie hul werk behoorlik doen nie aangesien misdaad in die land floreer.
“Die probleem met die intelligensiedienste is dat hulle so besig is om te kyk na die interne faksiegevegte in die ANC waar hulle moet voorkom dat daar nie ‘n paleisrevolusie plaasvind om die president van sy troon af te stoot nie, dat hulle nie hul primêre werk doen nie.
“Begin u werk doen en vra die mense van Suid-Afrika om verskoning. Moenie dink omdat u ‘n sogenaamde spioen is u onsigbaar is nie. U is nie. Maar u doen dinge in die duister. Dit is die probleem,” het dr. Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403