fbpx
Vryheidsfront Plus

Minister van onderwys weet nie of skole in Gauteng veilig is nie

Selfs ná die tragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark byna drie maande gelede waar verskeie leerlinge gedood en beseer is toe ‘n loopbrug ineengestort het, weet die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, steeds nie of enige ander skole in Gauteng strukturele veiligheidsgebreke het nie.

Dit het aan die lig gekom in ‘n geskrewe parlementêre vraag van die VF Plus aan die minister oor die aangeleentheid.

Nieteenstaande die gebeure by Driehoek en die Hoërskool Roodepoort waar die skool self sekere geboue onveilig verklaar het, kon die minister geen vrae oor die aangeleentheid antwoord nie, en gaan sy nou die Gautengse onderwysdepartement nader om die vrae te beantwoord.

Die VF Plus het aan die minister gevra hoeveel skole in Gauteng voldoen of voldoen nie aan die voorskrifte vir wetlike infrastruktuur-standaarde van haar departement of ander nasionale departemente nie en besonderhede daaromtrent.

Die tweede vraag was of infrastruktuur-inspeksies by skole gedoen word en ook om nadere besonderhede rondom dié aangeleentheid.

Die antwoord lui bloot dat die inligting aangevra is van die Gautengse onderwysdepartement.

Dit is onwaarskynlik dat die minister wel die vrae voor die verkiesing sal beantwoord en die vraag moet gevra word of sy die inligting nie doelbewus verswyg nie aangesien daar tans regseise teen die departement ingestel word deur die ouers van Driehoek.

Die VF Plus sal die vrae opnuut indien tydens die nuwe parlementêre sitting wat nog ‘n geruime tyd sal duur.

Indien die minister inderdaad nie oor die inligting beskik of ten minste ‘n dringende ondersoek na die veiligheid by skole gelas het om vas te stel waar ander strukturele gebreke bestaan nie, is dit ‘n skandalige en skokkende aanduiding en erkenning van die minister en die ANC-regering se ongevoeligheid oor die veiligheid van leerlinge.

Die VF Plus sal bly aandring op vrae oor wat die regering doen om kinders se veiligheid by skole te verseker en sal sodoende terugslaan teen ‘n regering wat argeloos staan teen die veiligheid van die land se skoolgaande kinders.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.