Die minister van gesondheid, Joe Phaahla, moet eerlik wees met die Suid-Afrikaanse publiek en ander belanghebbendes oor die proses wat gevolg word met kommentaar oor die vervanging van Covid-19-regulasies, wat onder die ramptoestand gegeld het, met gesondheidsregulasies wat onder die Nasionale Gesondheidswet gepromulgeer word.
Die minister het gisteraand kort voor middernag beperkte maatreëls soos die binnehuise dra van maskers ingestel en het die tydperk vir kommentaar verleng tot 5 Julie 2022.
Daar word tans wyd berig oor die teenstand wat die afgelope tyd teen die regulasies ontstaan het.
Dit is ‘n duidelike boodskap dat daar nie ooreenstemming oor die regulasies is nie en die minister moet eerlik wees oor die hoeveelheid kommentaar wat sy departement ontvang het met die vorige sluiting op 24 April 2022.
Die minister moet ook aandui hoe sy departement die groot volumes kommentaar hanteer en of dit enigsins in ag geneem word.
Die minister moet sê hoeveel mense ten gunste van nuwe regulasies is en hoeveel daarteen.
Dit sou ‘n skending van Suid-Afrikaners se demokratiese regte wees indien ‘n proses van openbare deelname geen gewig dra by finale besluitnemingsprosesse nie.
Die VF Plus het reeds op twee geleenthede die minister daarop gewys dat die regulasies eerder onttrek moet word.
Die openbare deelnameproses mag nie ‘n skynproses wees nie en in hierdie stadium wil dit voorkom asof dit wel die geval is.