Luidens 'n meningsartikel deur die uitvoerende hoof van die Kaapse Forum, mnr. Heindrich Wyngaard, het hy kennis geneem daarvan dat die minister van sport, kuns en kultuur, mnr. Nathi Mthethwa, in 'n vergadering met entiteite binne sy departement daarop aangedring het dat die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl sy naam verander.
Volgens hom is dit noodsaaklik vir inklusiwiteit en sluit dié naam sprekers van ander tale uit. So 'n stap sal egter die teenoorgestelde uitwerking hê.
Voor sy uittrede moes die VF Plus se vorige leier, dr. Pieter Mulder, in die betrokke parlementêre portefeuljekomitee 'n soortgelyke siening die hoof bied.
Lede wou destyds sien dat die monument se subsidie besnoei word, volgens hulle ook weens ‘n gebrek aan inklusiwiteit.
Mulder het destyds die komitee na die monument geneem en die simboliek daarvan verduidelik.
Die verskillende suile van die monument simboliseer die verskillende bronne waaruit Afrikaans gevorm is: Europese tale, verskillende Afrika-tale insluitend Khoisan-tale, sowel as Oosterse oorspronge. Dit het gelei tot 'n opmerking dat dit 'n "eerlike monument" is en die subsidie is met vrede gelaat.
Dit is belangrik om daarop te let dat 'n groot deel van die Afrikaanse taalgemeenskap sterk onder die indruk van die besondere aard van hul taal is.
Dit is 'n inheemse taal wat in Suid-Afrika vanuit uiteenlopende bronne gevorm is. Erkenning dat dit meer as 'n variasie van Nederlands is, is slegs met groot moeite verkry.
Daarom is daar ook meer as een monument ter ere van die taal, waarvan die mees indrukwekkende hier ter sprake is.
Diegene vir wie Afrikaanse hul erns is, moet dikwels hul taalbelange onderhewig stel aan die ywer van ander taalgemeenskappe.
Kyk byvoorbeeld na die meningsverskil oor die gebruik van Afrikaans in hoër onderriginstellings. Die enigste taal wat baat vind, is Engels as internasionale taal van omgang en geleerdheid.
Die vraag ontstaan waarom sprekers van byvoorbeeld isiXhosa of enige ander taal in die Paarl-omgewing nie hulpbronne bymekaarmaak om hul eie taal sigbaar te vier nie.
In 'n land wat talle kulture omvat, volg die owerheid gewoonlik een van twee benaderings: Die een is om alle tale en kulture te dwing om in een "amptelike" weergawe saam te smelt; en die ander is om dit sover moontlik te erken en selfs te verwelkom.
Die eerste laat druk opbou, wat die staat later uitmekaar laat spat, terwyl die tweede die onderliggende spannings verlig en selfs laat verdwyn. In Suid-Afrika is daar tekens van beide benaderings, maar Mthethwa se optrede is 'n voorbeeld van die eerste.
Die ervaring in Etiopië en Kenia is dat burgeroorlog beëindig of voorkom is deur kultuurgroepe in beheer van hul eie taal en ander kultuurgoedere te plaas, in teenstelling met 'n dwangbuis vir kulture wat voorheen gegeld het.
Om dit anders te stel: Om te beweer dat 'n spesifieke taalgroep ander benadeel deur hul eie te vier, is om die middelpuntvlietende kragte in die land te ontketen, pleks van die middelpuntsoekende kragte.
In hierdie geval gee Mthethwa stukrag aan die strewe vir Kaapse vryheid.
In stede van sy onverdraagsame houding, kan die minister van sport, kuns en kultuur eerder rade daarstel, waar kultuurgroepe self die beheer oor hulle erfenisterreine en monumente kan neem.
Dit mag van die spanning wat tans in Suid-Afrika opbou, ontlont.