fbpx
Vryheidsfront Plus

Minister erken dat staatshospitale en klinieke ná R26 miljard steeds nie oor standaarde vir NGV-akkreditasie beskik nie

Die minister van gesondheid, Joe Phaahla, het gister erken dat die land se staatshospitale en klinieke nieteenstaande ’n besteding van R26 miljard, steeds nie oor die standaarde beskik wat vir NGV-akkreditasie vereis word nie.

Dit was in antwoord van ’n vraag van die VF Plus of die minister in alle eerlikheid dink dat die infrastruktuur by staatshospitale en klinieke voldoen aan die standaarde wat vir NGV-akkreditasie vereis word.

Die minister het erken dat die geriewe nie op standaard is nie. Hy het gesê die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde voorsien die departement gereeld van opdaterings rakende standaarde en dat daar nog “baie is” om te doen.

Klousule 39 van die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering stipuleer dat om deur die fonds geakkrediteer te word om ʼn gesondheidsdiens te kan lewer, so ʼn instelling of gerief in besit moet wees van ’n sertifikaat van die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde.

Die VF Plus voorsien dat hierdie ook problematies gaan wees aangesien die betrokke kantoor nie naastenby oor genoeg inspekteurs beskik om alle geriewe, openbaar of privaat, deur die land te inspekteer nie.

Die jaarlikse begroting wat aan hierdie kantoor toegeken word, is nie voldoende nie, personeeltekorte is problematies en die kantoor het in November 2022 slegs oor 42 inspekteurs beskik.

Die situasie bevestig die VF Plus se standpunt van die afgelope vier jaar dat die NGV nie van stapel gestuur kan word voordat alle infrastruktuur by staats- en provinsiale hospitale en klinieke nie ten minste op standaard gebring is nie.

Die staat wil met die NGV soos parasiete teer op die private gesondheidsorgstelsel aangesien sy eie infrastruktuur tans in ʼn algehele staat van verval verkeer.

Die bedrag van R26 miljard wat reeds bestee is om die land se openbare gesondheidstelsel gereed te kry vir die NGV is in ʼn bodemlose put gestort.

Daar is geen verandering te sien aan probleme soos agterstallige mediese prosedures, die aanstelling van dokters en verpleegsters en die opgradering van infrastruktuur nie.

Suid-Afrika sit tans op ʼn tikkende tydbom en die VF Plus waarsku dat die land se totale gesondheidstelsel heeltemal in duie kan stort indien die NGV op die wetboek geplaas word.

Private gesondheidsorg sal heeltemal deur die NGV verswelg word totdat daar niks vir niemand oorbly nie. Die ANC is bloot te onbevoeg en oneerlik om hiermee vertrou te word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.