fbpx
Vryheidsfront Plus

Minderheidsgroepe suig aan die agterspeen met bevordering in Mpumalanga-polisie

Dit blyk duidelik uit ‘n antwoord van Mpumalanga se LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, op ‘n vraag van die VF Plus, dat minderheidsgroepe aan die agterspeen suig wanneer dit kom by bevordering in die provinsie se polisiediens.

In die 2019/20-boekjaar het net twee wit manlike beamptes en een manlike bruin beampte bevordering gekry in teenstelling met die bevordering van 43 swart beamptes.

In die 2018/19-boekjaar is slegs een manlike wit beampte bevorder van kaptein na luitenant-kolonel. In die oorstemmende tydperk is 48 swart polisiebeamptes bevorder.

Geen wit of bruin beamptes is in die 2021/22-boekjaar bevorder nie in teenstelling met die bevordering van 33 swart beamptes.

Geen bevorderings het Indiër polisiebeamptes toegeval tydens enige van die boekjare nie.

Luidens die provinsiale ekwiteitsverslag is daar minder as 6% wit, minder as 1% bruin en slegs 0,3% Indiërs in diens van Mpumalanga se polisie. Swart polisiebeamptes maak 93,34% van die polisiemag uit.

Die streng toepassing van die ANC-regering se beleid van regstellende aksie (RA) is duidelik besig om kundige en ervare polisielede vanuit minderheidsgroepe te onderdruk en te verdryf.

Volgens oud-polisielede wat die diens die afgelope twee jaar verlaat het, is hulle geen keuse gelaat as om in die privaatsektor ‘n ander heenkome te soek nie weens ‘n gebrek aan bevordering en onaanvaarbare werksomstandighede.

Die polisie in Mpumalanga gaan reeds gebuk onder ‘n gebrek aan kundigheid en opleiding soos blyk uit die lae wapenbevoegdheid van lede wat telkens onder die vergrootglas kom.

Ter wille van die veiligheid van al Mpumalanga se inwoners en veral van landelike veiligheid, is dit van uiterste belang dat kundigheid behou word om oorgedra te word aan onervare lede.

Dit is nog altyd die VF Plus se standpunt dat net die beste mense in poste aangestel moet word, ongeag velkleur.

Met die beste beskikbare polisiediens kan misdaad soos moord, roof en verkragting in Suid-Afrika verminder word. Per definisie moet enige persoon wat die doeltreffendheid van die diens doelbewus verswak, aandadigheid aan misdaad aanvaar wat andersins voorkom kon word.

Die VF Plus dring daarop aan dat die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Semakaleng Manamela, voor die wetgewer se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid verskyn om vrae aangaande beweerde diskriminasie met bevorderings te beantwoord.

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.