‘n Kostebevel is deur die hof teen Midvaal-munisipaliteit uitgereik omdat hy bewustelik versuim het om teen ‘n onwettige eiendomsontwikkeling op te tree. Die aansoek is suksesvol deur mnr. Paul Wright teen die Midvaal-munisipaliteit en Fun Valley Properties gebring (saaknommer 2018/25908).
Die hofbevel verplig die munisipaliteit om teen die eienaar van die eiendom op te tree. Alle verdere ontwikkeling moet summier gestaak word totdat daar aan die statutêre- en munisipale regte en bouregulasies voldoen word.
Die VF Plus vind dit onaanvaarbaar dat die Midvaal-munisipaliteit die hofbevel, wat op 12 September vanjaar uitgereik is, steeds minag en ignoreer. Die VF Plus is gefrustreerd met die munisipaliteit se inkonsekwente hantering van die regte van belastingbetalers en veroordeel dit ten sterkste.
Dit is ongehoord en onvanpas dat belastingbetalers se regte selektief deur die munisipaliteit benader word en sommige inwoners hulle selfs tot die hof moet wend om aanspraak op hul regte te maak.
Die VF Plus eis dat die koste van die hofbevel van die betrokke amptenare verhaal moet word omdat hul roekelose optrede tot nadeel van alle belastingbetalers strek.
Kontaknommer: 071 640 7283