fbpx
Vryheidsfront Plus

Midde-in krisis kan Eskom en regering nie voortgaan asof dit ‘sake soos normaalweg’ is nie

In sy grootste krisis-uur is dit oënskynlik ‘sake soos normaalweg’ vir Eskom en die regering en dit is tyd dat dié kragvoorsiener besef dat ingrypende maatreëls getref moet word voordat hy weer normaalweg kan funksioneer.

Dit is die boodskap wat dr. Mulder, leier van die VF Plus, vandag by Eskom se hoofkantoor, Megawatt Park in Midrand oorgedra het met ‘n protes-aksie van die VF Plus wat gefokus het op probleme wat aanleiding gegee het tot beurtkrag en hoë elektrisiteitstariewe by dié nutsmaatskappy.

Twee senior ampsdraers van Eskom het die beswaarskrif ontvang, en het hul dank teenoor dr. Mulder uitgespreek dat die protes-aksie vreedsaam plaasgevind het.

In die beswaarskrif word genoem dat Eskom se probleme die gevolg is van swak beplanning, regstellende aksie (RA) en wanadministrasie wat die oorsaak is van gebrekkige onderhoud, swak finansiële beplanning, vertragings by Medupi en Kusile en die verkrygingsprosedures van diesel en steenkool.

Dr. Mulder sê Eskom tree op soos ‘n normale maatskappy waar buitensporige salarisverhogings en bonusse uitgedeel word, verlammende stakings geduld word en regstellende aksie steeds toegepas word.

“Wat eintlik dringend nodig is, is ingrypende maatreëls om Eskom van ondergang te red. Uitgawes wat nie werklik nodig is nie, moet opgeskort word. Stakings kan onder die huidige omstandighede nie toegelaat word nie en dit grens aan selfvernietiging om RA te gebruik om van nog bekwame personeel ontslae te raak net omdat hulle wit is.

“Dit grens ook aan die absurde van Eskom om aan die een kant van die publiek te verwag om minder van sy produk te gebruik, maar terselfdertyd te vra vir ‘n tariefverhoging van 25%.

“Dit kom daarop neer dat Eskom en die staat nou van kraggebruikers wat wel pligsgetrou vir hul diens betaal, verwag om op ‘n buitensporige wyse selfs meer te betaal vir die verknorsing waarin Eskom hom bevind.

“Die VF Plus sê dit is onaanvaarbaar en sal enige poging steun om die publiek teen hierdie uitbuiting te beskerm,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.