Die Metsimaholo-munisipaliteit (Sasolburg, Deneysville, Oranjeville) verloor R27,1 miljoen se voorwaardelike toekennings vir munisipale en waterinfrastruktuur weens sy versuim om die fondse te bestee. Dit terwyl dié munisipaliteit se infrastruktuur in duie stort.
Die raad se versuim om ‘n munisipale bestuurder en hoof finansiële beampte in die afgelope ses maande aan te stel, is deur nasionale tesourie as rede aangevoer vir die afkeur van die munisipaliteit se aansoek om die onbestede fondse na die nuwe finansiële jaar oor te dra.
Dié munisipaliteit is reeds onder Artikel 139-administrasie deur die provinsiale regering geplaas. Die verbeurde fondse is ‘n verdere bewys van die ANC se onvermoë om verantwoordelik te regeer.
Die munisipaliteit se onwettige optrede en onderbesteding neem R27,1 miljoen vanuit die munisipale water- en infrastruktuur-voorwaardelike toekennings, wat vir broodnodige infrastruktuuropgradering- en instandhouding aangewend moes word.
Dit is onaanvaarbaar dat hierdie voorwaardelike toekennings van die vorige finansiële jaar nie in dié jaar bestee is nie en dui op die ANC se verkeerde prioriteite.
Metsimaholo se bestaande infrastruktuur stort in duie en hy kan onder geen omstandighede bekostig om enige fondse te verbeur nie.