Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Met massiewe begroting van Gautengse onderwysdepartement, is dit onaanvaarbaar dat wittes die skuld kry vir oorvol en haglike skole

Met ‘n begroting van R42,2 miljard, sowat 45% van Gauteng se totale begroting, is dit skokkend van dié provinsie se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, om wittes steeds die skuld te gee vir oorvol swart skole, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir basiese onderwys.

Luidens ‘n IOL-berig het Lesufi gister in Gauteng se wetgewer gesê ‘slegs wit’- (whites only) skole weier om swart kinders in te neem en skuil in die howe agter die verskoning van ‘taal en credo’ om swart leerlinge uit te hou.

Sonder om name te noem, het hy verwys na wit skole wat grootliks onderbenut is, en selfs van ‘n skool wat sleg 30% vol is terwyl die aanliggende swart skool 135% vol is. In sommige gevalle moet swart leerlinge tafels deel en op emmers op die grond sit, het Lesufi gesê.

Adv. Alberts sê Lesufi wys eintlik die vinger na homself met sy uitlatinge, en die tyd het aangebreek dat hy verduidelik hoe sy reuse begroting aangewend word.

Luidens Gauteng se laaste begroting (p. 159) word onder meer die volgende genoem:

Ses nuwe skole is voltooi en 300 tegnologie-klaskamers is voltooi en aan skole besorg. Nog 400 losstaande klaskamers is regoor die provinsie gelewer. Altesame 57 skole is opgeknap en ‘n verdere 62 is tans onder konstruksie.

Wat toekomsbeplanning aanbetref, word in die begroting genoem dat projekte reeds geïdentifiseer is, en in sommige gevalle is reeds met die bouwerk begin.

Adv. Alberts sê dit beteken dat talle skole herstel en gebou word, dat toekomsbeplanning gedoen word en dat die geld beskikbaar is. Tog gee Lesufi wittes en Afrikaanse skole steeds die skuld vir probleme in swart skole.

“Lesufi moet eerder daarby hou om die oormaat van openbare fondse wat hy ontvang, aan te wend vir meer moedertaalonderrig-skole. Hy moet eerder verduidelik waarom daar nieteenstaande al die geld soveel probleme in sy departement is,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.