Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Merafong se ooreenkoms met Eskom is nie volhoubaar nie

Die VF Plus in die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Khutsong) twyfel of die munisipaliteit se afbetalingooreenkoms met Eskom volhoubaar is omdat daar geen sprake van ‘n betekenisvolle ekonomiese herstelplan is nie.

Die munisipaliteit het onderneem om sy uitstaande skuld van R581 419 486 aan Eskom oor ‘n tydperk van 72 maande terug te betaal.

Die VF Plus het dit tydens die jongste raadsvergadering duidelik gestel dat hierdie ‘n nuttelose ooreenkoms is omdat die Merafong-munisipaliteit nie die finansiële vermoë het om ‘n afbetalingooreenkoms vir agterstallige skuld na te kom en boonop sy maandelikse skuld aan die nasionale kragvoorsiener te betaal nie.

Die Merafong-munisipaliteit se swak bestuurspraktyke oor die afgelope maande het daartoe gelei dat ‘n groot persentasie van sy elektrisiteitsaankope verlore gegaan het weens onwettige kragverbindings.

‘n Kontrakteur is aangestel om agterstallige skuld in te vorder, maar het ook onderpresteer.

Die munisipaliteit het vanaf Julie tot September 34,10% aan waterverliese gelei en skuld Rand Water meer as R16 miljoen. Waterverliese word toegeskryf aan waterlekkasies en verouderde infrastruktuur.

Die VF Plus het reeds sy besorgdheid oor voortslepende wanpraktyke, onregmatige besteding van belastingbetalersgeld en die gebrek aan dienslewering deur die munisipaliteit uitgespreek en vra dat onbevoegde amptenare vervang word met toegewyde en bevoegde amptenare.

Die kultuur van nie-betaling vir dienste wat gelewer is, dra by tot die finansiële verknorsing waarin dié munisipaliteit hom tans bevind.

Die VF Plus sal aanhou om die wanbestuur van Merafong uit te wys en om druk op die munisipaliteit plaas om dienslewering aan getroue belastingbetalers ‘n prioriteit te maak.

Navrae: 082 671 2302

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.