fbpx
Vryheidsfront Plus

Menseregte ‘n klug onder ANC-regering (Debat in parlement: Menseregtedag)

Die ANC-regering leef in die verlede sover dit menseregte in Suid-Afrika aanbetref. Hy is nie staat om die tekortkominge te sien waarmee gewone Suid-Afrikaners moet saamleef nie.

Die realiteit is dat gewone Suid-Afrikaners ontsê word van die mees basiese menseregte terwyl ANC-ampsdraers en kaders op die room van die land leef.

Ná dertig jaar as regering is dit die nalatenskap waarvoor die ANC onthou sal word.

Terwyl die ANC gister met groot geskal Menseregtedag gevier het, het miljoene Suid-Afrikaners nie toegang tot voldoende water gehad nie en baie dorpe in geheel was sonder water.

Dis is die gevolg van byna dertig jaar se korrupsie, wanbestuur en totale ongeërgdheid oor die lot en basiese menseregte van gewone Suid-Afrikaners.

Miljoene rande word bestee om ANC-ministers in die grootse gemak en weelde te laat leef terwyl miljoene van hul landgenote nie kos of werk het nie.

Suid-Afrika se Grondwet waarborg sekere basiese menseregte. Die ANC het egter hiervan vergeet.

Artikel 9 van die Grondwet waarborg die reg op gelykheid. Daar is weinig sprake hiervan.

Selfs op die sportveld word ras voorop gestel en alles word gerig met ’n bril uit die verlede waar gelykheid en gelyke geleenthede nie raakgesien word nie.

Artikel 31 van die Grondwet waarborg die reg op kultuur, godsdiens en taal. Dit sluit in die keuse van onderrigtaal.

Tog is die oorwegende onderrigtale steeds Afrikaans en Engels. Niks is gedoen om die sprekers van die ander amptelike tale te akkommodeer soos die Grondwet bepaal nie.

Mense word die reg tot moedertaalonderrig ontsê, en wanneer ’n gemeenskap opstaan vir hul taalregte, word hulle rassiste genoem.

Artikel 10 van die Grondwet waarborg menswaardigheid. Wat in die land se hospitale gebeur, wys dat ook dit net leë woorde is. Selfs ’n eenvoudige prosedure stroop mense van alle menswaardigheid.

Die ANC stel net in homself en in sy eie sak belang. Gewone Suid-Afrikaners se lot en omstandighede is onbelangrik.

’n Voorbeeld is die pleegsorgtoelaag wat R37 per kind per dag beloop. Geen kind kan met waardigheid versorg word teen R37 per dag nie. Dit is ’n skande.

Net so is dit ’n skande dat die ANC nog kan opstaan en sê hy veg vir menseregte. Dit is bloot nie waar nie.

Die enigste manier om weer basiese menseregte in Suid-Afrika te vestig, is deur van die ANC-regering by die stembus ontslae te raak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.