fbpx
Vryheidsfront Plus

Matrieks 2022: Gelukwensing aan matrieks en skole wat onder moeilike omstandighede kon presteer

Die oorweldigende meerderheid van Suid-Afrikaanse matrikulante is aan openbare skole ingeskryf en ontvang môre hul finale uitslae.

Dit is ‘n groot geleentheid waarna die meeste leerders uitsien vandat hulle in graad 1 inskryf.

Vir die VF Plus is dit ‘n voorreg om suksesvolle kandidate, hul ouers en die skole waar hulle gestudeer het, hartlik geluk te wens.

Terselfdertyd word onsuksesvolle kandidate aangemoedig om aanvullende eksamens te skryf of selfs, indien nodig, die jaar te herhaal. Die uitdrukking lui immers: “Aanhouer wen!”

Vanjaar se matrieks verdien spesiale vermelding, aangesien hulle die grootste las van die Covid-verwante inperkings moes dra.

Die Nasionale Seniorsertifikaat, oftewel matriek, is vir baie mense die punt waarop die kinderdae agtergelaat en die volwasse lewe betree word.

Dit mag die sosiale werklikheid wees, maar die ekonomiese werklikheid is dat hierdie kwalifikasie toegang tot naskoolse onderwys en opleiding gee terwyl talle werkgewers ‘n matrieksertifikaat selfs vir intreevlak-poste vereis.

Hoewel die Nasionale Seniorsertifikaat ‘n hoogs gestandaardiseerde kwalifikasie is, word dit aan wyd uiteenlopende onderwysinstellings aangebied.

Die grootste ongelykheid is nie tussen skole in ryk en arm gebiede soos dikwels beweer word nie. Dit is tussen skole waar onderwysers en gemeenskappe deur die skoolbeheerliggaam tot onderwys toegewyd is; en die ander.

Die onderwysstelsels word dikwels aan twee maatstawwe gemeet: Die koers waarteen graad 1-leerders matriek bereik; en die matriekslaagsyfer. Ongeveer ‘n derde van hierdie jaar se graad 1-groep het langs die pad verlore geraak, terwyl die slaagsyfer van die wat steeds in die stelsel is, 80,1% is, byna 4 persentasiepunte beter as verlede jaar.

Slaag en druip fokus nie op prestasie nie. Leerders kan hulle van ‘n blote slaag onderskei deur op Hoër sertifikaat-, Diploma-, of Baccalaureus-vlak te slaag.

Dit stippel hulle moontlike naskoolse studiemoontlikhede uit. Sukseskoers op die onderskeie vlakke is 38,4%, 26,7%, 14,9% en 13,6%.

Dit dui daarop dat ‘n té groot persentasie suksesvolle matrikulante steeds met verdere studie, of in hul poging om in diens geneem te word, kan swaarkry.

Dit bring die maatstaf vir sukses ter sprake, waaraan min aandag geskenk word: Die sukses van matrikulante nadat hulle die kwalifikasie verwerf het.

‘n Jeugwerkloosheidsyfer wat hardnekkig rondom vyftig persent staan, is ‘n swak getuigskrif daarvan.

Dit is ‘n probleem wat nie met klein verstellings aan eksaminering opgelos kan word nie, maar wat nuwe denke oor onderwys en opvoeding verg.

Oorvol skole, swak sanitasie, afwesigheid van onderwysers en bewerings van poste-vir-geld is onopgeloste sake wat steeds dele van die onderwysstelsel verlam.

Aan die ander kant is daar skole waar ouers na-belaste geld gebruik en groot opofferings maak om die beste moontlike onderwys vir hulle kinders moontlik te maak.

Daar is selfs leerders wat na-ure werk om hulle skoolgeld te betaal.

In die lig hiervan is dit bykans ondenkbaar dat die departement van basiese onderwys met die hangende wetsontwerp op basiese onderwyswette (die Bela Bill) alle skole oor dieselfde kam wil skeer.

Die minister, me. Angie Motshekga, het selfs onder druk erken dat Afrikaanse skole deur die wet geteiken word om hulle voertaal te verander.

Die premier van Gauteng, mnr. Panyaza Lesufi het met sy uitsprake in dié verband berugtheid verwerf.

Die VF Plus is van mening dat die minister veel eerder suksesvolle skole, ongeag hulle voertaal, moet toelaat om nog meer selfstandig te raak.

Mannekrag en fondse van die nasionale- en provinsiale departemente word dan vrygestel om ander skole op dieselfde peil te bring. Dit geld die geskiktheid van geriewe en personeel.

Die VF Plus, soos ander partye, erken die sleutelrol wat onderwys kan speel om sosio-ekonomiese probleme op te los en mense tot volle ontplooiing te bring.

Dit is primêr ‘n kulturele funksie. Daarom wil die party die onderwyslandskap só verander, dat kultuurgroepe wat dit verkies beheer oor hulle onderwys kan neem.

Kultuurrade soos in die Suid-Afrikaanse Grondwet voorsien, kan in werklikheid beter geplaas wees om gehalte onderwys te bied, as provinsies.

Te midde van al hierdie geskille, gaan onderwys oor ons almal se kinders. Daarom loof die VF Plus elke volwassene wat sy of haar beste daarvoor gee; en elke kind wat die beskikbare geleenthede aangryp.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.