fbpx
Vryheidsfront Plus

Matlosana op rand van finansiële ineenstorting; kan nie meer as lopende saak beskou word nie

Die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein) sink daagliks dieper in ‘n finansiële verknorsing in en is op die rand van ‘n totale ineenstorting.

Die hoofrede hiervoor is die jarelange wanbestuur van die ANC-beheerde munisipaliteit. Die munisipaliteit kan nie meer as ‘n lopende saak beskou word ingevolge toepaslike wetgewing nie.

Dié chaos in die finansiële bestuur van die munisipaliteit is gister weer belig toe die munisipaliteit weereens nie in staat was om ‘n begroting voor die munisipale raad te dien vir stemming binne die wetlik voorgeskrewe tyd nie.

Wetgewing bepaal dat munisipale begrotings ten minste dertig dae voor die aanvang van die nuwe finansiële jaar op 1 Julie, voor die munisipale rade moet dien.

Hierdie situasie het tot gevolg dat plaaslike huishoudings en sakelui nie weet wat die omvang van verhogings in munisipale tariewe gaan wees nie en daarom nie enige finansiële beplanning kan doen nie.

Dit het ‘n direkte negatiewe impak op plaaslike ondernemings wat reeds ly onder die gevolge van swak dienslewering.

Die burgemeester, James Tsolela, wou boonop hê dat die raad ‘n konsep dienslewerings- en begrotingsimplementeringsplan goedkeur.

Om ‘n bestedingsplan goed te keur sonder ‘n begroting is irrasioneel en gaan die verstand te bowe.

Die VF Plus het ten sterkste beswaar aangeteken teen hierdie onreëlmatigheid.

Hierdie tipe onbeholpe, onreëlmatige en onprofessionele optrede is tekenend van die algemene gebrek aan kundigheid en verantwoordelike bestuur in die munisipaliteit.

Dit is ook bekend dat die munisipaliteit reeds met ‘n las van agterstallige skuld ten bedrae van R1,9 miljard by sy grootste diensverskaffers, Eskom en Midvaal Water sit.

Met die munisipaliteit se huidige maandelikse inkomste van sowat R120 miljoen, is só ‘n skuldlas op slegs twee begrotingsitems reeds onhanteerbaar.

Die munisipaliteit kan selfs nie sy gewone maandelikse Eskomrekening ten volle vereffen nie. Dit sal waarskynlik weer daartoe lei dat Eskom die munisipaliteit op terme plaas met dreigemente om die kragtoevoer na Matlosana af te sny.

Dit is duidelik dat die munisipaliteit reeds bankrot is.

Die ANC-regering is direk verantwoordelik vir die agteruitgang van dié eens vooruitstrewende dorpe weens korrupsie, wanbestuur en kaderontplooiing.

Die VF Plus sal Noordwes se provinsiale regering versoek om in te gryp om dié kern-ekonomiese gebied van ondergang te red. Die mense van Suid-Afrika verdien beter as die ANC.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Armand Cloete

Premier moet ingryp by Matjhabeng-waterkrisis

Die VF Plus eis dat die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, moet ingryp by die voortslepende waterkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia,

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.