fbpx
Vryheidsfront Plus

Mantashe se Stalinistiese uitsprake: Hy het geen begrip van onafhanklike instellings nie

Die minister van minerale bronne en energie, mnr. Gwede Mantashe het met twee beweerde uitsprake Saterdag die VF Plus se ergste vrese oor sy geskiktheid vir 'n regeringspos bevestig.

Voor die ANC se Oos-Kaapse verkiesingskonferensie het hy luidens mediaberigte gewaarsku dat 'n lid van die Nasionale Kernkragreguleerder wat weerstand teen kernkrag bied, moet verwag om deur hom uit die pos verwyder te word.

Verder het hy teen me. Busisiwe Mavuso van die Eskom-raad uitgevaar omdat sy die ANC onlangs voor die parlementêre komitee oor openbare rekeninge gekritiseer het.

Die eerste uitspraak is ooglopend op mnr. Peter Becker gemik. Hy is in Januarie vanjaar permanent as lid van die betrokke reguleerder verwyder. Hy was ook voorsitter van die Koeberg Alert Alliance, wat teen negatiewe gevolge van kernkrag waarsku.

Die VF Plus het hom in daardie stadium ernstig teen die stap uitgespreek, aangesien dit lyk of Mantashe nie besef dat 'n regulerende liggaam juis alle belanghebbendes behoort te verteenwoordig nie. Becker moes balans bring in 'n raad wat andersins sterk ten gunste van dié tegnologie is.

Met hierdie uitspraak laat Mantashe blyk dat hy dink 'n onafhanklike regulerende owerheid behoort eintlik 'n ondersteuningsgroep te wees.

In die ander uitspraak het Mantashe verwys na 'n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir openbare rekeninge waarin me. Mavuso dit gestel het dat die probleem by Eskom aan die ANC te wyte is, nie aan die huidige raad of die uitvoerende hoof, mnr. André de Ruyter, nie.

Mantashe vererger die omstredenheid aangesien me. Mavuso ná haar stelling versoek is om die vergadering te verlaat. Volgens Mantashe kritiseer mense die ANC om aandag te trek.

Mantashe het hieroor glo gesê: "Ons plaas mense in 'n posisie en dan val hulle die ANC aan.

Daarmee impliseer hy dat dié party vir me. Mavuso op die Eskom-raad, wat onafhanklik moet wees, geplaas het. Daarom is sy volgens hom lojaliteit aan die ANC verskuldig.

Die VF Plus sê reeds vir meer as twee dekades dat die ANC nie die onafhanklikheid van sogenaamde onafhanklike instellings eerbiedig nie, maar dit bloot as geleenthede vir kaderontplooiing sien. Mantashe het nou bevestig dat dit so is.

Aan die stuur van hierdie sleutelportefeulje is dus 'n minister wie se sienings oor goeie regering en die verhouding tussen party en staat in die Oosbloklande van voor 1991 vasgehaak het. Indien president Cyril Ramaphosa hom ná sulke uitsprake in sy kabinet behou, moet hy ook verstaan waarom vertroue in sy regering so vinnig kwyn.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.