Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mangaung-waterkrisis: Bykans helfte van 218 miljoen liter gaan daagliks verlore

Van die sowat 218 megaliter (miljoen liter) water wat die Mangaung-metro se munisipale gebied daagliks gebruik, gaan 46% (sowat 100 megaliter) daagliks verlore weens lekkasies en gebrekkige waterinfrastruktuur.

Hierdie skoksyfer is deur die waarnemende stadsbestuurder, mnr. Mzingisi Nkungwana, aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) bekend gemaak terwyl die metro tans deur die soveelste waterkrisis gaan.

Met Bloemwater as middelman, word Manguang deur agt damme van water voorsien.

Ná die afgelope tyd se goeie reënval is al agt hierdie damme vol, maar loop inwoners se krane steeds gereeld droog omdat die infrastruktuur nie behoorlik in stand gehou word nie en gaan die ekwivalent van 20 000 JoJo-tenks van 5000-liter elk se gesuiwerde water boonop per dag verlore.

Die mees onlangse watertekorte is juis weens onder meer gebarste pype veroorsaak en dien as bewys dat die waterinfrastruktuur van die metro nie behoorlik in stand gehou of opgegradeer word nie.

Terwyl die ANC-regeerde munisipaliteit fokus op binne-gevegte en verkeerde prioriteite, word kerndienslewering soos instandhouding en deurlopende watervoorsiening aan inwoners agterweë gelaat.

Suid-Afrika is ‘n waterskaars land met voorspellings dat daar slegs tot en met 2025 in die huidige wateraanvraag voorsien sal kan word.

Die nasionale departement van water en sanitasie het onlangs ‘n meesterplan vir die voorsiening van water en sanitasiedienste bekend gestel, maar geen sodanige plan sal slaag as munisipaliteite, soos die Mangaung-metro, nie op grondvlak gereeld basiese instandhouding en opgradering van waterinfrastruktuur doen nie.

Die ANC se beleid van kaderontplooiing en die los en vas wyse wat met belastingbetalers se geld omgegaan word, veroorsaak hierdie ernstige diensleweringsgebreke.

Daar is eerstens nie die nodige fondse vir instandhouding en opgradering nie en al was die fondse beskikbaar, ly die metro aan ‘n ernstige tekort aan kundigheid om die nodige gedoen te kry.

Die VF Plus het as deel van sy voorstelle vir die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ‘n behoorlike oudit van die waterinfrastruktuur, sowel as kritieke opgraderings daaraan voorgestel en sal vereis dat sodanige voorstelle in werking gestel word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.