Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mangaung: VF Plus voorspel nóg leё beloftes

Die VF Plus het sy ernstige bedenkinge uitgespreek oor die uitvoerbaarheid van die Mangaung-metro se hersiene 2025/26-geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en waarsku dat dit weereens net onvervulde beloftes vir inwoners inhou.

Vanjaar is die laaste van ’n vyfjaar-beplanningsiklus en hierdie is ‘n laaste kans vir die raad om sy mandaat aan die inwoners van Mangaung na te kom.

Die jongste GOP is skynbaar gegrond op die metro se visie om “internasionaal veilig en aantreklik te wees om in te woon, werk en belê”.

Alhoewel die plan lofwaardige voornemens bevat, gaan dit steeds gebuk onder dieselfde fundamentele tekortkominge wat soveel van die metro se planne in die wiele ry – ’n gebrek aan implementering en aanspreeklikheid.

’n Uitvoerbare GOP bepaal onder meer of gemeenskappe toegang sal hê tot skoon water, werkende straatligte, veilige paaie en funksionele sanitasie.

Ekonomiese ontwikkeling kan nie floreer wanneer bestaande ondernemings hul deure moet sluit weens toenemende swak dienslewering nie.

Die VF Plus stel die volgende dringende ingrypings voor:

• Prioritiseer basiese dienslewering: Onvoltooide infrastruktuur projekte moet afgehandel word en befondsing vanaf die nasionale regering ten volle aangewend word daarvoor.
• Plattelandse ontwikkeling moet ingesluit word: Meer aandag moet geskenk word aan gebiede soos Soutpan, Wyke 43 en 50, Bloemdal (veral Denneweg), en Bainsvlei.
• Versterk projekbestuur: Deursigtige begroting, duidelike tydlyne en vasgestelde sperdatums is noodsaaklik.
• Bevorder openbare deelname: Gemeenskapskonsultasie moet nie bloot ’n formaliteit wees nie. Die publiek se insette oor water, sanitasie, paaie en rekeningkwessies moet erken en aangespreek word.
• Handhaaf aanspreeklikheid: Amptenare en kontrakteurs moet werklik aanspreeklik gehou word. Gevolge vir oortredings, swak prestasie en versuim is nie onderhandelbaar nie.

Sonder dringende hervorming sal die hersiene GOP vir 2025/2026 nie anders wees as die mislukkings van die afgelope vier jaar nie.

Die VF Plus bly verbind tot die ondersteuning van ontwikkeling tot voordeel van alle inwoners.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.