Die VF Plus het teen die begroting van die Mangaung-metro vir die 2021/22-finansiële jaar gestem aangesien dit tariewe en belastings buitensporig verhoog en nie onnodige uitgawes besnoei nie.
In die huidige sukkelende ekonomiese omstandighede moet daar innoverend gedink word en kan daar nie soos in die verlede voortgegaan word met dieselfde resep van tariefverhogings nie.
Dienstegelde en belastings word deur die begroting met baie hoër as inflasie verhoog terwyl inwoners juis ly onder swak dienslewering.
Die inwoners van De Wetsdorp, Wepener en Van Stadensrus se tariewe het sedert hul inlywing by die metro in 2016 met 403% verhoog. Dié inwoners betaal metro-tariewe sonder om werklike basiese dienste te ontvang.
In hierdie huidige haglike ekonomiese omstandighede is dit onsinnig om tariewe en belastings te verhoog. Dit sal nie die finansiële probleme van die metro oplos nie, maar sal dit eerder vererger.
Hierdie onbekostigbare verhogings sal die ekonomiese groei en ontwikkeling in die metro kniehalter. Dit sal ook lei tot meer wanbetalers wat die metro se uitstaande debiteure verder sal verhoog.
Die metroraad moet 'n gunstige omgewing skep vir die privaatsektor om in te belê en werk te skep. Daarom moet belastings en tariewe eerder verlaag word om die ekonomie te stimuleer.
Die VF Plus sal voortgaan om korrupsie en wanbestuur in die munisipaliteit uit te wys en te beveg.
Die inwoners van Mangaung verdien 'n werkbare realistiese begroting waar tariewe en belastings bekostigbaar is en daar waarde in die vorm van dienslewering vir hierdie tariewe is.
Kiesers het in die komende plaaslike regeringsverkiesing die geleentheid om saam met die VF Plus op te staan en 'n sterk boodskap te stuur dat die verval van die metro stopgesit moet word.
Navrae: 082 305 1540