Die ANC moet vandag vir die mense van Suid-Afrika, en in besonder vir sy bruin gemeenskap, sê dat hy hulle reg om hulleself te definieer respekteer. Dit is nie vir die ANC om te besluit daaroor nie, sê dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep.
Hier volg dr. Mulder se volledige lidverklaring:
Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het onlangs aan bruinmense gesê hulle moet aanvaar dat hulle eintlik swart is. Hy besluit sommer namens hulle. Politieke opportunisme om stemme te werf wanneer dit hulle pas.
Wanneer dit egter by die departement van korrektiewe dienste kom, besluit die ANC egter dat bruines nie swart genoeg is om werk te kry of bevorder te word in die nuwe Suid-Afrika waar ras, meer as ooit, die bepalende faktor vir feitlik alles geword het nie.
Mantashe dink bruinmense is dom en dat hy hulle kan misbruik. Dieselfde ANC wat aan hulle vertel hulle is swart se beleid maak dat teen hulle gediskrimineer word. More dien hierdie vraagstuk voor die Grondwethof. Dié hof moet uitspraak lewer in die saak waarin tien werkers van die departement van korrektiewe dienste saam met Solidariteit veg teen die gevolge van Regstellende Aksie wat alle wit en bruin mense ernstig benadeel.
Die tien is PJ Davids, CF February, AJ Jonkers, LJ Fortuin, GM Baartman, DS Pekeur, TS Abrahams, DR Jordaan, JJ Kotze en DMA Wehr. Die saak gaan egter oor veel meer as net die tien mense. Die saak kan bepalend wees vir die toekoms van alle bruinmense, veral in die Wes-Kaap waar hulle die meerderheid is.
Die Vryheidsfront Plus gee daarom sy volle steun aan hierdie mense wat teen die verdrukking van Regstellende Aksie moet veg.
Die ANC kan terselfdertyd ook vir die land sê hoe lank hy nog wil voortgaan met hierdie onderdrukkende beleid wat niks anders as rassisme is nie. Dit is net so immoreel as enigiets wat onder die vorige bedeling gebeur het. Verkeerd bly verkeerd.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403