fbpx
Vryheidsfront Plus

Lewensgevaarlike pad word herstel na volgehoue druk van VF Plus

Die R707 tussen Lindley en Petrus Steyn, wat lewensgevaarlik is vanweë sy swak en vervalle toestand, gaan eindelik herstel word na volgehoue druk van die VF Plus.

Dié pad het aanvanklik nie op die Vrystaatse departement van paaie en vervoer se lys van padherstelprojekte verskyn nie.

Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die Vrystaatse LUR van polisie, paaie en vervoer, Sam Mashinini, geëis dat dringende padherstelwerk aan dié pad gedoen moet word. Die VF Plus is verheug dat dié pad nou herstel gaan word.

Voedselsekerheid berus op 'n baie sensitiewe waardeketting in die landbou en elke veranderlike, onder meer reënval, weerpatrone en infrastruktuur, speel 'n belangrike rol.

Hierdie veranderlikes moet bestuur word in so ‘n mate dat boere in staat is om optimaal te produseer en produkte uiteindelik aan verbruikers te lewer.

Soos die meerderheid van vervalle Vrystaatse paaie, het die R707 tot so ‘n mate verval dat boere toenemend probleme met voedselproduksie ervaar het. Dié pad het ook ‘n veiligheidsrisiko vir alle padverbruikers geword.

Na 'n vergadering met die boeregemeenskap het die VF Plus ingegryp en druk op die provinsiale regering geplaas om dit dringend te herstel en te onderhou. ‘n Griefskrif in dié verband is van stapel gestuur en aan die Vrystaatse wetgewer oorhandig.

Boere in dié distrik produseer gemiddeld 20 000 ton rooivleis per jaar en dra grootliks by tot die plaaslike munisipale inkomste deur middel van grond- en eiendomsbelasting.

Die Vrystaat is die voedselmandjie van Suid-Afrika en die VF Plus sal voortgaan om te verseker dat die landbousektor beskerm word en vir sy lewensbelangrike waarde en bydrae tot voedselproduksie geprioriseer word.

Navrae: 082 493 6389

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.