(Begrotingsposdebat in NRP: Landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling)
Landbou is ‘n hoeksteen van Suid-Afrika se ekonomie. Boere en hul werkers het in 2020 midde-in die Covid-19-pandemie sterk gestaan en aan die wêreld gewys dat geen uitdaging hulle sal onderkry nie.
Ten spyte van groot teenstand het die landbousektor voortgegaan om te voorsien in die behoefte van alle Suid-Afrikaners, ongeag ras, taal of geloof.
Uitlatings van politici, soos verlede week deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Nkosazana Dlamini-Zuma, dat die grond in die land gesteel is, is ‘n gevaarlike misleiding en vul die landbougemeenskap nie met vertroue in die regering nie.
Die R494 miljoen wat op mediumtermyn toegewys is in die program vir landbou-produksie, bioveiligheid en natuurlike hulpbronne om die uitbreking van siektes te versag en te voorkom, is onvoldoende.
Geen finansiële hulp is aan boere verleen wat in sommige gevalle al hul diere van kant moes maak weens die uitbreek van varkgriep nie.
Dit is onverstaanbaar dat daar nie voorsiening gemaak word vir ‘n rampfonds of ‘n ander noodplan om boere te help in sulke omstandighede nie.
Verder is daar geen voorsiening gemaak vir voldoende hulp met die droogte in die Noord-Kaap en ander dele van Suid-Afrika nie. Dit lei tot ‘n groot tekort aan weiding en ander broodnodige hulpbronne.
Die VF Plus het reeds aan die minister van landbou, Thoko Didiza, om meer droogtehulp gevra en dit is tyd dat die minister opstaan vir landbou en die toekoms van landbou in Suid-Afrika om voedselsekerheid te verseker.
Onderbesteding van fondse wat aan provinsies toegeken word vir landbou en landbou-ondersteuning plaas groot druk op die sektor en beperk groei, werkskepping en vooruitgang.
Die veiligheid en welstand van die landbougemeenskap is van groot belang en moet geprioritiseer word.
Die tyd het aangebreek om hand aan die ploeg te slaan vir ‘n beter Suid-Afrika.