Bewerings van intimidasietaktiek wat die Landbank gebruik om sukkelende boere van hul plase te verdryf, is kommerwekkend en onaanvaarbaar.
Hierdie taktiek behels glo om oud-soldate van 32 Bataljon te gebruik om plase van boere wat probleme met die terugbetaling van hul lenings aan die Landbank ondervind, te beset.
Die soldate is luidens berigte in diens van ’n private maatskappy wat glo teen sowat R1,5 miljoen per maand sy boeliewerk vir die bank teen die boere doen.
Die VF Plus sal saam met belanghebbendes staan en alles in die stryd werp om hierdie aangeleentheid tot op die hoogste vlak te voer om die landbougemeenskap te beskerm.
Landbank is in die eerste plek geskep om boere op die been te help én in moeilike tye soos tydens droogtes te ondersteun om by te dra tot voedselsekerheid in die land.
Die teenoorgestelde is nou aan klaarblyklik aan die orde van die dag waar eerder van buitensporige intimidasietaktiek gebruik gemaak word om boere van hul plase te verdryf.
In een van die voorvalle onlangs in die Karoo het oud-soldate van 32 Bataljon ’n plaas en plaashuis glo onwettig betree en ‘oorgeneem’ omdat die boer na bewering agterstallig was met sy Landbank-rekening.
Luidens berigte was dit nie die geval nie en die boer moes met dokumentêre bewyse en met die hulp van die polisie die betreders van sy plaas laat verwyder.
In ander gevalle is daar wel voorlopige sekwestrasie bevele bekom weens agterstallige skuld aan Landbank. Die bank se invorderaar maak van brutale en onreëlmatige metodes gebruik wat nie finansieel tot voordeel van die bank is nie.
Groot dele van die Karoo het veral oor die laaste sewe jaar ‘n erge droogte beleef wat boere tot die uiterste beproef het.
Om boere se lot te vererger, het handelsbanke skugter geraak om boere te help weens die regering se eie optrede.
Faktore soos onteiening sonder vergoeding, ’n sukkelende ekonomie en algemene verdagmaking van boere, het grootliks daartoe bygedra.
Dit het boere selfs meer aangewese gemaak op die hulp van die Landbank wat sedert 2020 self ernstige finansiële probleme ondervind.
Dit was grootliks ook sy eie maaksel deurdat skuld aan opkomende boere toegestaan is wat dit nooit sou kon terugbetaal nie.
Die bank het toé reeds sy rentekoerse ingrypend verhoog en groot druk op bestaande kommersiële boere geplaas om hul lenings ten volle terug te betaal.
Kundiges het jare gelede voorgestel dat die Landbank ’n kommersiële been moet skep om winsgewend te bly maar dat die behoud van die ontwikkelingsdeel van die grootste belang is vir hulp aan boere en sodoende vir voedselsekerheid.
Ander oplossings soos ’n betaalvakansie vir boere wat deur moeilike tye gaan, moet ook oorweeg word.
Soos nou in groot dele van die Karoo waar dit gereën het, kan daar weer winsgewend geboer word en lenings kan gediens word. Dit is nie in belang van die landbousektor as geheel, voedselsekerheid en die voortbestaan van die Landbank om voortydig op te tree nie.
Die geld wat die Landbank gebruik om boere van hul plase te laat verwyder en besittings te berg, kan eerder sinvol aangewend word om boere te help om weer op die been te kom. Dit sou ‘n sinvolle langtermyn-oplossing wees.
Waar ’n boer nou van sy plaas verwyder word, sal daar in die huidige ekonomiese klimaat en met dieselfde klimaatsprobleme, veel moeiliker weer ’n winsgewende, kommersiële benutting van dieselfde grond kan wees. Niemand kan hieruit voordeel trek nie.
Die VF Plus sal dringend die saak opneem met die minister van finansies, Enoch Godongwana. Landbank moet eerder in gesprek tree met boere as om hierdie brutale intimidasietaktiek toe te pas wat tot niemand se voordeel is nie.