Sibanye Gold se aankondiging dat hy nie verder in Suid-Afrika sal belê nie weens probleme in die regering, beleidsonsekerheid en retoriek teen groot ondernemings wat beleggers afskrik, is die wrang vrugte van president Jacob Zuma en die ANC se vertrapping van die land se ekonomie wat die land nou pluk, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.
Adv. Albers sê die tekens kom nou sterk deur dat groot en bekende maatskappye nie meer skroom om te sê hulle wil weens die vergrype van die president en die regering nie meer in Suid-Afrika belê nie.
“As Sibanye Gold se vooruitskatting van ekonomiese vooruitsigte in Suid-Afrika en sy vertroue in die regering so somber is, kan dit sekerlik as ‘n gegewe aanvaar word dat vele ander maatskappye hierdie siening deel.
“Dit laat die vraag ontstaan hoeveel minder bekende maatskappye reeds hul beleggings in Suid-Afrika na die buiteland geneem het, en hoeveel die voorbeeld gaan volg.
“Suid-Afrika is duidelik in groot moeilikheid weens die president se arrogante vertrapping van die land se ekonomie ter wille van korrupte patronaatskap.
“Die gevolge van sy optrede raak nou al hoe duideliker om te sien. En dit skets ‘n somber en onheilspellende toekomsprentjie,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403