Dit is ‘n skande dat bedrywighede by die hof in Potchefstroom tot stilstand gedwing is nadat ‘n groot deel van die gebou se dak ineengestort het weens swak onderhoud en ‘n gebrek aan noodsaaklike herstelwerk.
Niemand is in die voorval beseer nie. Die gebou is intussen onveilig verklaar.
Wat hierdie voorval des te meer skokkend maak, is die feit dat die VF Plus maande gelede die stand van sake by die hof onder die aandag van die minister van justisie, Ronald Lamola, gebring het.
Die situasie het intussen só versleg dat basiese dienste aan die publiek en die gang van regspleging reeds vir ‘n geruime tyd daardeur belemmer word.
Ten minste drie vooraanstaande regsfirmas in Potchefstroom het ook aan die VF Plus bevestig dat hulle skriftelik kapsie gemaak het by die direkteur-generaal (DG) van justisie, adv. Doctor Mashabane, oor die verval en omstandighede by die hof.
Die VF Plus sal die saak dringend met die minister en die departement opvolg, en antwoorde eis oor watter stappe geneem gaan word om die hof- en noodsaaklike departementele dienste in Potchefstroom te herstel.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.