Die laer brandstofpryse wat vir volgende week voorsien word, is goeie nuus vir vuisvoos verbruikers.
Oor die afgelope maande van rekordpryse is verskeie voorstelle om prysstygings in toom te hou, gemaak. Hoewel die prys nie ten volle binne die regering se beheer is nie, het hy tog 'n verrassende invloed daarop.
Die grootste deel van die petrolprys (tans bykans R16.90) is die basiese prys. Dit is hoofsaaklik op die waarde van die rand teenoor die Amerikaanse dollar, sowel as die internasionale prys vir Brent ru-olie gegrond. Dit is ook die deel wat van maand tot maand wissel.
Belastings, bergings- en vervoerkoste en die winsgrense van verskillende handelaars bly vir langer periodes konstant. Deur die loop van 2022 was die enigste wysiging 'n 3c verhoging in vervoerkoste en die tydelike verligting in die brandstofheffing wat deur die tesourie toegestaan is.
Groothandelaars moet sorg dat hulle teen 45,5c per liter 'n wins maak en kleinhandelaars teen R2.28. Van kleinhandelaars word 1.5% tot 1.75% van die kleinhandelsprys deur banke verhaal wanneer verbruikers met kredietkaarte betaal.
'n Stygende brandstofprys laat hierdie bedrag ook styg en kan die effektiewe winsgrens op daardie transaksies tot R1.83 verlaag.
Versoeke om deregulering van die mark vir petrol het al opgeklink, met die verstandhouding dat groter mededinging laer pryse tot gevolg sal hê. Indien in ag geneem word dat alle vervoer en winste minder as R4 van die totale prys uitmaak, ontstaan die vraag hoeveel verskil deregulering op hierdie vlak kan maak. Dit kan wel tot groter konsentrasie in die bedryf lei en landelike handelaars dwing om pryse op te skuif, terwyl werksverliese onvermydelik kan wees.
Deregulering is 'n goeie opsie in 'n betreklik vrye mark. In Suid-Afrika is daar egter min ondernemings met die vermoë om brandstof in te voer en te berg en slegs een raffinadery. Hierdie ondernemings het 'n oorheersende posisie teenoor groot- en kleinhandelaars wat beteken dat deregulering die kwesbare deel van die waardeketting nog meer kwesbaar sal maak.
Die sowat sestigduisend brandstofjoggies kan as gevolg daarvan nuwe werk soek.
Die VF Plus het al tevore standpunt oor die brandstofheffing en die padongeluksfonds se heffing ingeneem. Die grootste invloed wat die regering kan hê, lê egter op 'n heel ander vlak: Die waarde van die land se geldeenheid.
Hoe laer die waarde van die rand is, hoe duurder kos brandstof vir Suid-Afrikaners. Laer ru-oliepryse kan slegs tot voordeel van Suid-Afrika wees as dit nie met verlaagde waarde van die rand gepaard gaan nie. Wanneer 'n mens in ag neem dat die waarde van 'n land se geldeenheid as barometer vir internasionale vertroue in die ekonomie is, is dit duidelik watter verskil die regering werklik kan maak.
Ekonomiese beleid wat vertroue skep, arbeidsbeleid wat tot werkskepping lei, stabiliteit wat die land uit rommelstatus lig en die afskaffing van transformasiegedrewe inmenging in die ekonomie, kan die rand se waarde herstel.
Alle Suid-Afrikaners sal dan die voordeel van laer brandstofpryse geniet, sonder dat party hulle werk moet prysgee of selfs besighede moet sluit.