fbpx
Vryheidsfront Plus

Koalisies deel van nuwe politieke landskap

Suid-Afrika se politieke landskap is besig om te verander en koalisies is deel van die nuwe horison.

‘n Nuwe tydvak is reeds ingelui waar die dae van ‘n totale en volstrekte ANC-meerderheid getel is. Koalisie-regerings op plaaslike vlak is ‘n realiteit.

In hierdie debat oor koalisies het ‘n ANC-lid melding gemaak van “collutions”. Sameswerings. Die definisie daarvan is ‘n geheime of onwettige samespanning om iemand te bedrieg.

Hierdie definisie pas sommige koalisies op plaaslike vlak waar die ANC betrokke is, soos ‘n handskoen.

Dit is ook onwaar dat net die ANC tot nou toe deel was van ‘n suksesvolle koalisie. Daar was vele ander soos die vorige regering in Hessequa tussen die VF Plus en die DA. Die ANC was glad nie in die prentjie nie.

Suid-Afrika se Grondwet lui dat die land ‘n veelparty-demokrasie met ‘n proporsionele regeringstelsel is. Dit sal onvermydelik lei tot samewerking tussen politieke partye en koalisievorming.

Die onderwerp van dié debat is ‘n blote hersenskim. Onder die ANC was daar nie iets soos gesonde polities-administratiewe samewerking òf goeie bestuur, òf dienslewering nie.

Koalisieregerings moet nou red wat te redde is ná byna drie dekades se vernietigingswerk van die ANC.

Daar is wel vier belangrike lesse wat ter harte geneem moet word met koalisievorming:

Die grootste vennoot moet die nederigste wees. Groter getalle beteken niks sonder die steun van koalisievennote nie, ongeag hul grootte.

Ten tweede: Koalisies moet plaaslike gevorm en gevestig en bestuur word met so min inmenging as moontlik van buite.

In die derde plek die belangrike rol van interpersoonlike verhoudinge van koalisievennote. Dit is van die allergrootste belang om dáár die grondslag te lê vir goeie samewerking.

Laastens: Hoe minder partye, en hoe meer gevestig hulle is, hoe groter die kans op sukses.

Daar moet verkieslik weggestuur word van klein partye gebou om een of enkele persone. Dit is ‘n resep vir mislukking wanneer só ‘n party die magsbalans beheer.

Die VF Plus sal toesien dat hierdie lesse op plaaslike vlak toegepas word wanneer ‘n nuwe nasionale regering in 2024 aan bewind kom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.