Die 66kV-kragnetwerk in Kemptonpark word daagliks deur kabeldiewe gevandaliseer en het nou veroorsaak dat dele van Birchleigh reeds vier dae sonder krag is.
Die VF Plus besoek sedert die onderbreking elke dag die Kamferhout-substasie om die herstelvordering dop te hou en terugvoering aan inwoners van Birchleigh te gee.
Die netwerk se beurtkragskedule vir Kemptonpark is nou verander na die 88kV-skedule om aan inwoners krag te verskaf terwyl die Ekurhuleni-metroraad die 66kV-netwerk weer op die been kry.
Birchleigh is egter steeds sonder krag weens kabeldiefstal.
Ekurhuleni het ‘n sekuriteitsmaatskappy aangestel om vermeende kabeldiewe af te skrik en sekuriteitkameras word eersdaags geïnstalleer.
Die groot hoeveelheid substasies, minisubstasies en kragbokse wat beskadig word, veroorsaak dat die netwerk broos is en in baie gevalle nie aan die einde van beurtkrag aanskakel nie.
Elektrisiëns is besig om die netwerk na te gaan om die fout op te spoor.
Die kragtoevoer sal moontlik vanmiddag herstel wees.