Die VF Plus verwelkom vlak-3 waterbeperkings wat vandag deur die Mangaung-metroraad goedgekeur is, maar is nie seker of die metro daartoe in staat is om besparingsmaatreëls effektief te implementeer en bestuur nie.
Die raad is meegedeel dat indien dit nie binne die volgende 21 dae baie reën nie gedeeltes van Bloemfontein sonder water kan wees.
Die VF Plus is veral bekommerd oor wat die metro se plan is om te verseker dat nie net inwoners die maatreëls gehoorsaam nie, maar ook of Mangaung daartoe in staat is om waterlekkasies te herstel.
Dit is nie net die verantwoordelikheid van inwoners om water te spaar nie, maar die metro is wetlik verplig om sy infrastruktuur in stand te hou, veral in ag geneem dat die vlakke van slik by damme wat die metro bedien, bydra tot ‘n moontlike krisis soortgelyk aan wat Kaapstad tans ervaar.
Die VF Plus het reeds in ‘n vraag in die Vrystaatse Wetgewer gevra dat die LUR vir samewerkende regering, Sisi Ntombela, moet aandui wat die provinsiale regering doen om waterlekkasies in Vrystaatse munisipaliteite aan te spreek.
Die VF Plus vra inwoners van Mangaung om die nuwe maatreëls te gehoorsaam in ‘n poging om ‘n “Dag-Zero” vir Mangaung te vermy, maar sal ook aanhou druk plaas op die metro om te verseker dat hy sy infrastruktuur instand hou.
Die VF Plus sal ook in ‘n volgende raadsvergadering ‘n mosie stel vir ‘n oudit van waterinfrastruktuur in die metro, sodat deeglik beplan kan word vir herstelwerk aan pype wat gereeld bars en waardevolle water vermors.
Kontaknommers: 084 206 3375