fbpx
Vryheidsfront Plus

Kan dit wees dat die OB en ANC-kabinet besig is om die markte tot die ANC se voordeel te manipuleer?

Die druk van die Openbare Beskermer (OB) en die minister van mineralebronne se uitsprake veroorsaak dat die Rand en die aandelemarkte afgedruk word en dit laat die vraag ontstaan of dit dalk doelbewus gedoen word tot voordeel van die ANC, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se voorsitter en parlementêre woordvoerder oor finansies.

Die VF Plus gaan die Finansiële Diensteraad en die Johannesburgse Effektebeurs vra om ondersoek te doen wie enige kort-transaksies gedoen het op die Rand se beweging na aanleiding van die OB se uitlatings gister rakende die Reserwebank.

Adv. Alberts sê die OB se aankondiging dat die Reserwebank se grondwetlike rol hersien moet word om meer beskermend teenoor die bevolking op te tree instede daarvan om die Rand te beskerm, het 'n sterk negatiewe effek op die Rand gehad.

Hy sê enigiemand met vooraf kennis daarvan sou geweet het die Rand sou negatief geraak word en sou daaruit munt kon slaan deur Rand-verhandelings wat die geldeenheid kortverkoop. Die OB weet ook goed wat haar mandaat is en dat sy nie aan die uitvoerende of wetgewende gesag kan voorskryf oor hoe wetgewing daar moet uitsien nie. Tog het sy met haar verslag ‘n groot uitwerking op die valutamarkte veroorsaak.

Net so het die publikasie van die mynbou-bemagtigingshandves deur minister Mosebenzi Zwane verlede Donderdag in een dag R51 miljard van mynbou-aandele uitgewis.

“Die minister het geweet wat die effek van die handves sou wees en dat dit 'n negatiewe effek op mynbou-aandele sou hê. Dieselfde geld vir enige persoon wat vooraf hiervan geweet het en wat hulself wou posisioneer om mynbou-aandele teen 'n afslag op te raap.

“Die ANC is op rekord dat hulle wil hê die regering en meer swart industrialiste moet deelneem aan die ekonomie.

“Dit sal dus interessant wees om dop te hou of die regering self van die mynaandele onder druk opraap en of sogenaamde 'swart industrialiste' mynbou-aandele opraap met veral finansiering vanaf die Industriële Nywerheidskorporasie en/of die Openbare Beleggingskorporasie wat miljarde Rande van onder meer die Staatsdienspensioenfonds, die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds bestuur.

“Die aanvalle op die sektore van "mag", soos geïdentifiseer deur die ANC, kan nie toevallig wees nie. Dit is lankal bekend dat die ANC, soos die EFF, beheer oor die bank- en mynsektore begeer. Anders as die EFF, gebruik die ANC nie die taal van onteiening nie, maar doen dieselfde deur wetgewing wat stelselmatig meer beperkinge op eiendomsreg plaas; dus 'n wyse van sluip-onteiening.

“Dit is ook goed moontlik dat die ANC die omgewing vir sluip-onteiening skep deur die verswakking van die markte wat vermoënde en polities-gekonnekteerde kopers die geleentheid gee om enersyds geld te maak uit die beweging van die Rand en die koop van aandele waar die pryse afgedwing word, net soos wat Optimum deur Eskom in bankrotskap gedwing is om 'n koop aan Tegeta en Oakbay af te dwing.

“In die lig hiervan sal die VF Plus vra dat die Finansiële Diensteraad en die Johannesburgse Effektebeurs 'n ondersoek doen wie enige kort-transaksies gedoen het op die Rand se beweging na aanleiding van die OB se verslag. Daar sal ook dopgehou word wie myn-aandele koop, veral met hulp van die Industriële Nywerheidskorporasie en/of die Openbare Beleggingskorporasie,” sê adv. Alberts.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.