Dié tyd van die jaar het weer aangebreek waarin nuwe belastingtariewe vir die volgende finansiële jaar vasgestel moet word, sê Franco de Lange, VF Plus-raadslid, in die Johannesburgse metro.
Die VF Plus in Johannesburg is diep bekommerd oor die negatiewe balans van R18,2 miljard op munisipale boeke.
“Die grootste balans van hierdie gelde word deur gewone huishoudelike verbruikers geskuld en die meeste van dié uitstaande skuld is meer as 90 dae agterstallig,” sê rdl. de Lange.
Hy meen jaar na jaar word die skuldlas op die verbruiker al hoe groter met die instel van jaarlikse verhogings en die herverkoop van dienste (water en elektrisiteit).
Die stad se herverkoopprys is buitensporig hoog wat veroorsaak dat verbruikers nie hul maandelikse betalings kan bybring nie. Hierdie is nie net ‘n probleem in Johannesburg nie, maar word landwyd ervaar.
“Munisipale betalings word onbekostigbaar duur en dit is veral pensionarisse wat die meeste ly. Die afgelope vyf jaar het ‘n groot aantal seniorburgers by die VF Plus aangeklop oor die onbekostigbaarheid van tariewe. Baie moes hul eiendomme verkoop omdat hulle nie langer vir dienste kon betaal nie.
“Miskien het die tyd aangebreek dat stadsrade hul maandelikse heffings heroorweeg en goedkoper maak om die verbruiker wat reeds in ‘n ekonomiese wurggreep is, by te staan,” meen de Lange.
Rdl. Franco de Lange
Tel: 082 358 3882
Epos: fdelange@vfplus.org.za