Die VF Plus verwelkom die afdanking van ‘n City Power-projekbestuurder vir sy aandeel in die R44 miljoen Hopefield-substasie korrupsiesaak.
Die projekbestuurder is skuldig bevind aan wangedrag en samespanning nadat hy betalings aan die kontrakteur, Setheo Engeneering, goedgekeur het vir werk wat nooit gedoen is nie.
Twee van Setheo Engeneering se direkteure is in 2017 in hegtenis geneem. Die kontrak is tydens die ANC-bewind goedgekeur. Die opgraderingswerk ter bedrae van R66 miljoen aan die Eldorado-substasie is nooit afgehandel nie.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het besluit om nie te vervolg nie.
Die kontrakteur het op ‘n bedrieglike wyse bankwaarborge aan City Power voorgelê en hulle so mislei deur voor te gee dat die maatskappy se balansstaat die projek kon hanteer.
Die VF Plus spreek hom ten sterkste uit teen hierdie vermorsing van belastinggeld en korrupsie. As deel van ‘n koalisieregering sal die VF Plus sy waghondfunksie uitvoer en ‘n wakende oog hou sodat die soort van onreëlmatigheid met wortel en tak uitgeroei word.
Die publiek word ook uitgenooi om enige vorm van korrupsie aan te meld deur die Johannesburgse anti-korrupsie tolvrynommer te skakel by 0800 00 258. Alle inligting word vertroulik hanteer.
Kontaknommer: 082 358 3882