Die JB Marks-plaaslike munisipaliteit se laksheid en skynbare weiering om ‘n hofbevel teen onwettige grondbesetters by Potchefstroom af te dwing, het nou gelei tot voorvalle van geweld teen inwoners van die Mooibank-omgewing.
‘n Groep mense wat reeds sedert 2021 ‘n stuk munisipale- en staatsgrond by Mooibank onwettig beset, het hierdie week begin om paaie met brandende bande af te sper en motoriste met klippe te bestook.
‘n Onskuldige vrou wat gisteraand op pad huis toe was, het in ‘n hinderlaag beland toe sy die Mooibank-pad gebruik het nadat die onrus skynbaar bedaar het. Sy is skielik vanuit die donker deur ‘n groep mense met klippe aangeval, maar kon met behulp van die gemeenskap en polisie uit die situasie ontsnap.
Haar motor is beskadig, maar sy is nie beseer nie.
Die VF Plus het reeds met die aanvang van die onwettige besetting in Januarie 2021 ingegryp en die munisipaliteit en die departement van landbou bygestaan om uitsettingsbevele teen die besetters te bekom.
Die betrokke grond is geleë in ‘n landbougebied en glad nie geskik vir ‘n hoë-digtheid menslike nedersetting nie.
‘n Hofbevel is toe teen groot koste bekom, maar het bepaal dat dit eers in werking tree met die opheffing van die Covid-19-ramptoestand. Met die opheffing van die ramptoestand in April vanjaar het die VF Plus die munisipaliteit herhaaldelik versoek om die hofbevel af te dwing.
Die munisipaliteit het nie opgetree nie en dit blyk dat daar selfs samespanning tussen sommige ANC- en ander plaaslike raadslede met die besetters is. Selfs met die aanvang van die besetting het die besetters beweer dat hulle erwe teen R1 000 van ANC-raadslede gekoop het.
Intussen het die vorige waarnemende burgemeester, Mapule Mataboge, toegesien dat watertenks vir die onwettige besetters opgerig word en ‘n plaaslike raadslid het dit goedgedink om hulle met ‘n welwillendheidsbesoek en ‘n braaivleis te onthaal.
Die VF Plus het toe die polisie en ander owerhede versoek om die bewerings te ondersoek nadat dit duidelik geblyk het dat die besetting goed georkestreerd was. Tot op hede het die ondersoeke skynbaar niks opgelewer nie.
Nog meer kommerwekkend is die feit dat die huidige ANC-burgemeester, Gaba Thithiba Ka Qhele, poog om die hofbevel en bestaande wetgewing en munisipale regulasies te omseil deur sogenaamde “konsultasie-forums” vir onwettige besetters in die JB Marks-munisipale gebied in te stel.
Die skepping van sulke strukture het dit duidelik ten doel om stemwerwing te doen deur geloofwaardigheid aan die onwettige optrede van grondbesetters te gee.
Dit is ‘n skande dat die ANC in JB Marks toelaat dat wetsgehoorsame inwoners in gevaar gestel en gyselaar gehou word deur mense wat geen agting vir die landswette of die owerhede het nie.
Landboubedrywighede word ontwrig, werkers kan nie hul werkplek bereik nie en skoolkinders se toegangsroete na skole word afgesny.
Die VF Plus sal aanhou druk toepas om te verseker dat die munisipaliteit verantwoordbaar gehou word en dat hy die bevel van die hooggeregshof uitvoer.
Die party het reeds ‘n dringende vergadering met die burgemeester versoek om die aangeleentheid te bespreek en sal daarop aandring dat die munisipaliteit sy verantwoordelikhede teenoor sy belastingbetalers nakom.
Die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp verdien beter as die ANC.