fbpx
Vryheidsfront Plus

Inwoners van Gauteng uitgelewer aan die genade van misdadigers

Inwoners van Gauteng is uitgelewer aan die genade van misdadigers soos blyk uit die polisie se jongste kwartaallikse misdaadstatistiek vir Julie tot September wat onlangs bekendgemaak is.

Die Gautengse polisiekommissaris, Lt.genl. Elias Mawela, kon nie tydens die bekendmaking van die provinsie se statistiek ‘n oortuigende verduideliking gee waarom hy en sy nuwe span generaals nie misdaad in die provinsie kan laat afneem nie.

Die sosio-ekonomiese omstandighede in Gauteng waar werkloosheid styg weens die knellende ekonomie, het ‘n groot inpak op die misdaadsyfer, maar kan nie as verskoning gebruik word vir die gebrek aan effektiewe polisiëring nie.

Die moordsyfer het gedurende die tweede kwartaal met 21% gestyg in oorstemming met dieselfde tydperk verlede jaar en behoort die polisiekommissaris tot kommer te stem.

Moorde het hoofsaaklik in openbare plekke plaasgevind (658), openbare geboue (47), besighede waar drank verkoop word (31) en openbare vervoerareas soos taxi-staanplekke, bushaltes en treinstasies (13).

Vier polisielede is gedurende die tydperk vermoor terwyl 15 sekuriteits- en wetstoepassingslede ook in die uitvoering van hul pligte dood is.

Motorkapings het met 3,4% toegeneem, vragmotorkapings met 2% en so ook sakerooftogte en seksuele misdrywe.

Die VF Plus het reeds verskeie beroepe op Mawela gedoen om aandag aan die agterstand van DNS- en ballistiese toetse te skenk en toe te sien dat polisielede van die nodige opleiding en toerusting voorsien word om hul werk effektief te verrig.

Polisiespeurders is onder geweldige druk om dossiere volledig af te handel en kan dit in baie gevalle nie sonder DNS- en ballistiese toetsuitslae doen nie. Die stelsel is besig om hardwerkende polisielede te faal.

‘n Groot bekommernis is die aantal polisielede met hangende strafsake. Sowat 459 polisielede staan tereg op aanklagte van moord, aanranding, strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur en regsverydeling. Slegs vier beamptes is geskors.

Die veiligheid van Gauteng se inwoners is in gedrang weens die stygende misdaadsyfer en die VF Plus doen weer ‘n beroep op die polisiekommissaris om streng op te tree teen polisiebeamptes wat hulle skuldig maak aan misdrywe om so die publiek se vertroue in die polisiediens te herstel.

Die VF Plus loof die getroue polisielede wat wel onder moeilike omstandighede hul werk verrig te midde van ‘n tekort aan mannekrag, toerusting en ondersteuning.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.