Inwoners van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Barberton, Hazyview, Nelspruit, Witrivier) skuld die munisipaliteit meer as R80 miljoen vir waterverbruik.
Die munisipaliteit het dit aan die VF Plus bevestig.
Die bedrag is vir uitstaande rekeninge oor 30, 60 en 90 dae, maar volgens die VF Plus se inligting is daar inwoners wat in 2012 laas vir water betaal het.
Baie van die uitstaande rekeninge is weens dispute tussen inwoners en die munisipaliteit oor waterverbruik, verkeerde fakturering, onwettige waterverbindings en ‘n kultuur van nie-betaling.
Tans word 70% van die munisipaliteit se waterinkomste ingevorder by slegs 30% inwoners van hoofsaaklik Hazyview, Witrivier, Nelspruit en Barberton.
Die burgemeester, me. Sibongile Makushe, het tydens ‘n raadsvergadering op 29 April onderneem om waterverbruikoudits te implementeer wat fisieke meterlesings, maandelikse fakturering van waterverbruik en waterdiefstal sal evalueer.
Alhoewel die munisipaliteit ‘n afslag van 1% gee vir tydige betalings, sal daar ernstig aandag gegee moet word daaraan om dispute op te los en streng teen nie-betalers op te tree.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die munisipaliteit om sy invorderingskoers op te skerp.
Dit is onaanvaarbaar dat ‘n handjievol getroue betalers die groot aantal wanbetalers moet subsidieer.
Die uitstaande R80 miljoen is noodsaaklik vir munisipale dienslewering en beïnvloed die instandhouding van waterinfrastruktuur negatief.