Die VF Plus versoek inwoners om bedag te wees op kabeldiewe wat Kemptonpark se kraginfrastruktuur plunder.
Kabeldiewe het sewe dae gelede begin om Bonaeropark in Kemptonpark se infrastruktuur te stroop en het die gebied sonder krag gelaat.
Die diefstal het gebeur tydens ‘n beurtkrag-periode.
Toe die krag na die beurtkrag-periode nie aanskakel nie, het ‘n soektog na die oorsaak gevind dat die kragkabels by ‘n substasie gesteel is.
Die kabels is herstel, maar byna dadelik weer gesteel.
'n Private sekuriteitsmaatskappy het ná die vyfde diefstal die diewe betrap en in hegtenis geneem.
Kabeldiefstal plaas nie net ‘n verdere finansiële las op Ekurhuleni se skouers nie, maar is ook lewensbedreigend vir inwoners wat van onder meer suurstof afhanklik is.
Baie inwoners is ook nie finansieel in staat om te belê in kragopwekkers of sonpanele nie en moet gevrieste voedsel weggooi.
Teen die huidige hoë voedselpryse is dit ‘n dubbele slag vir inwoners.
Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners om waaksaam te wees en indien hulle kabeldiewe gewaar dadelik die polisie, Ekurhuleni-metropolisie, raadslid, nooddienste (011 10177/ 011 458 0911) of ‘n sekuriteitsmaatskappy te skakel.
Inwoners word gemaan om nie die kabeldiewe, wat moontlik deel is van ‘n sindikaat, self te konfronteer nie.