(Begrotingsposdebat in parlement: Sport, kuns en kultuur)
Sport is een van die mees verenigende faktore van enige nasie. Mense van oor ras- en kultuurgrense heen skuif maklik verskille opsy oor gedeelde ondersteuning en vurige trots vir ‘n nasionale span. Daarom is dit jammer dat die ANC-regering hierdie potensiaal kelder met sy voortdurende inmenging.
Die regering se ewige beheptheid met rassekwotas en transformasieteikens plaas sport in Suid-Afrika onder beleg. Krieket Suid-Afrika is ‘n goeie voorbeeld hiervan.
Die regering en politiek hoort nie in sport nie. Dit moet oorgelaat word aan professionele sportlui en beamptes wat die betrokke sportsoort deeglik ken en verstaan.
Van die staat se kant moet eerder gefokus word op die oprigting en instandhouding van behoorlike sportfasiliteite in elke munisipaliteit en dorp om so by te dra tot die ontwikkeling van jong sportmanne vanaf grondvlak sodat daar genoeg wenners van alle rasse na vore kan tree om op grond van meriete mee te ding om plekke in sportspanne.
Aan sporttalent is daar ‘n oorvloed van in die land. Dit moet net ontgin word. Die antwoord is dus gelyke geleenthede en nie rigiede kleurkwotas nie.
Die probleem met kwotas is tweesnydend: Dit veroorsaak wrywing in ‘n mededingende omgewing waar samehorigheid die verskil tussen wen en verloor beteken. Ten tweede plaas dit onvermydelik die etiket van kwotaspeler op gekleurdes wat selfs op meriete ‘n plek in ‘n span behaal.
Dit is die direkte en ongelukkige gevolg van rasgegronde transformasiekwotas in sport en uitstaande swart sportsterre moet hierdie las op die sportveld dra. Totdat die regering hierdie eenvoudige beginsel nie begryp en toepas en jong spelers ontwikkel nie, sal geld of teikens nie help nie.
Dieselfde geld kuns en kultuur en die bevordering van alle Suid-Afrikaners se reg op die kulturele leefstyl van hul keuse.
Jag word gemaak op die Afrikaner-herkoms, geskiedenis en kultuur. Tog is dit nie net die Afrikanerkultuur en erfenis wat deurloop nie. Die ANC-regering, ten spyte van die mooi broodjies wat in die parlement, in komitees en in die media deur die departement gebak word, het géén agting vir enigiemand se erfenis of geskiedenis nie.
So ook het hy ook geen agting vir die kunste nie – die sitstaking by die Nasionale Kunsteraad en alles wat daarmee gepaard gegaan het, het die kollig ferm daarop geplaas.
Museums, soos die Robbeneiland-museum, nasionale erfenisterreine soos die konsentrasiekampkerkhof in Kroonstad, word grootliks verwaarloos.
Die regering kan niemand se erfenis, kultuurskatte of gedenkwaardighede beskerm nie. Hy kan nie museums bestuur tot die gesamentlike voordeel van alle Suid-Afrikaners nie en kunstenaars word nie ondersteun nie.
Om hierdie rede moet almal se kultuurerfenis, die kunste en sport die alewige staatsinmenging wat onafwendbaar met korrupsie en wanbestuur onder die ANC gepaard gaan, gespaar te word tot voordeel van die nageslag voordat daar niks van oorbly nie.