Die VF Plus neem kennis van die uitsprake van die menseregtekommissie (MRK) wat dit gister duidelik gemaak het dat, alhoewel die regering nie verpligte inentings oorweeg nie, hierdie opsie “wel ‘n laaste uitweg is”.
Die VF Plus se standpunt oor gedwonge inenting is dat die regering ‘n groot fout sal begaan indien hy inenting en inentingspaspoorte sou begin afdwing en dat landsburgers wel ‘n vrye keuse gegun moet word om hul demokratiese en grondwetlike regte hieroor uit te oefen.
Wat inentingspaspoorte aanbetref, mag daar nie toegang tot sportgeleenthede, winkels, kerke, restaurante en selfs gesondheidsdienste geweier word indien persone nie geënt is nie.
Hierdie mense moet die opsie gebied word om met ‘n negatiewe Covid-19-toets wel toegang tot openbare plekke te kan verkry.
Dit sou volgens die VF Plus ‘n skending van menseregte en grondwetlike regte wees indien persone wat nie geënt is nie toegang tot sulke plekke verbied word.
Dit sou neerkom op ‘n poging om die publiek te straf vir die regering se onbevoegdheid om verlede jaar betyds onderhandelinge te voer vir die verkryging van entstowwe en om betyds te begin met die inentingsprogram.
Die regering se kommunikasie met die publiek oor waarom entstowwe gebruik moet word om die pandemie hok te slaan, was ook gebrekkig.
Gedwonge inentings sal mense in opstand bring en die regering moet eerder daadwerklike pogings aanwend om die publiek te oortuig dat entstowwe wel die regte roete is om te volg om die pandemie uit te roei.
Die Covid-19-bevelsraad, die minister van gesondheid, Joe Phaahla, en die kabinet mooi besin voordat hulle die land hieroor in ‘n rigting probeer stuur wat nie gaan slaag nie en wat kan opeindig in geweld en wanorde.