Die VF Plus vermaan die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, asook die Gautengse departement van onderwys, om die Hoërskool Jan Viljoen-kwessie en die beskuldigings van rassisme met omsigtigheid te hanteer en nie 'n heksejag op 'n sekere deel van die skoolgemeenskap en hul kinders te loods nie.
Die situasie kan net na behore beoordeel word nadat alle feite ingewin is en nadat alle rolspelers en belanghebbendes hul saak gestel het. Lesufi en die departement moet veral neutraal optree in die belang van alle leerders en skoolgemeenskappe.
Die VF Plus spreek sy kommer oor die hantering van die kwessie uit juis weens die onoordeelkundige en roekelose wyse waarop Lesufi en sy departement die Hoërskool Overvaal-kwessie hanteer het wat tot groot opstande en onrus gelei het gegrond op leuens en bedrog vanuit die departement van onderwys. Beide die hooggeregshof en die konstitusionele hof het Lesufi en sy departement se optrede gerepudieer.
Tydens 'n gesprek op die Whatsapp-groep van die Gauteng-wetgewer se onderwyskomitee, het verskeie ANC-wetgewerlede (LPW's) reeds die wit skoolgemeenskap veroordeel.
Die VF Plus het die LPW’s gewys op die groteske foute wat Lesufi by Hoërskool Overvaal gemaak het en dat almal by regsake betrek kan word.
Dit is LPW’s se plig om neutraal te bly en nie enige oordele vooruit te loop nie, aangesien daar regsimplikasies kan wees teen LPW’s wat verkeerde aannames maak indien negatiewe gevolge daaruit sou vloei teen onskuldige persone.
Die VF Plus sal die ondersoek na die gebeure by Hoërskool Jan Viljoen monitor en sal self ondersoek instel na die feite sodat daar in belang van al die leerders opgetree word.