fbpx
Vryheidsfront Plus

Hofuitspraak teen Madibeng lui totale verval van eens trotse munisipaliteit in

Die beslagleggingsbevel op die bankrekeninge van die Madibeng-plaaslike munisipaliteit (Brits, Hartbeespoort en Mooinooi) wat vandag in die Pretoriase hooggeregshof aan Tshwane se metropolitaanse munisipaliteit toegestaan is, kan dienslewering in die gebied finaal in duie laat stort.

Die hof het beslis dat Tshwane op Madibeng se bankrekeninge beslag kan lê om ‘n bedrag van R258 miljoen te verhaal wat lank reeds vir waterverskaffing aan die metro verskuldig is. Madibeng het nie die aansoek teengestaan nie.

Madibeng het by herhaling in gebreke gebly om ooreenkomste vir die afbetaling van die skuld aan die metro na te kom.

Die ANC-beheerde munisipaliteit is reeds vir jare berug vir swak dienslewering, wanbestuur, korrupsie en kaderontplooiing. Selfs ingryp-pogings van die provinsiale en nasionale regerings kon die situasie nie beredder nie.

Madibeng is ‘n teksboekvoorbeeld van die algemene verval wat ANC-beheer in munisipaliteite landwyd teweeg gebring het.

Die munisipaliteit bedien ‘n omgewing wat een van die spilpunte van Noordwes se provinsiale ekonomie is. Groot werkgewers in die mynbou-, landbou- en industriële sektore is in die gebied teenwoordig.

Die algehele minagting vir die belange van die plaaslike inwoners wat die ANC-bestuur in hierdie munisipaliteit openbaar, word weereens beklemtoon deur die jongste gebeure.

Die VF Plus is in die proses om met die Noordwes se premier, mnr. Bushy Maape, en die provinsiale tesourie in verbinding te tree met versoeke tot dringende ingryping by die munisipaliteit.

Daar kan nie toegelaat word dat hierdie gemeenskap uitgelewer word aan die katastrofiese gevolge van die optrede van die ANC in Madibeng nie.

Die inwoners van Brits, Hartbeespoort en Mooinooi verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.