fbpx
Vryheidsfront Plus

Hekpoort brand omdat ANC-verkiesingsbeloftes nie realiseer

Die vernietiging van Hekpoort, die vallei-agtige landbougemeenskap wat grens aan die bekende Wieg van die Mensdom-erfenisgebied, is ‘n direkte gevolg van die ANC se opportunistiese verkiesingsbeloftes aan inwoners wat nie nagekom word nie.

Die Hekpoort/Magaliesburg-gebied word reeds maande geteister deur die optrede van opstandige mense wat weekliks paaie versper, infrastruktuur vernietig, veeweiding afbrand en privaatvoertuie en selfs vragmotors aan die brand steek. Dit omdat hulle grond en huise beloof is wat nie realiseer nie.

In die proses verhinder betogers mense om by plase en sake-ondernemings uit te kom en motoriste moet ompaaie volg om hul bestemmings te bereik.

Ondernemings wat aan plaaslike inwoners werk verskaf en ‘n ekonomiese bydrae lewer, word lamgelê en ly verliese wat voor die deur van die plaaslike- en nasionale ANC-regering gelê moet word.

Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit het voor die 2016-munisipale verkiesing behuisingsbeloftes aan werkers en inwoners van die gebied gemaak wat nie nagekom is nie.

Die voorverkiesing-beloftes het begin toe ‘n bepaalde stuk grond wat vir behuising geoormerk is, vir R8 miljoen aan ‘n private persoon verkoop is en dieselfde dag weer aan die stadsraad vir R16 miljoen verkoop is.

Dakloses het begin om strukture op die grond op te rig met die belofte van behoorlike behuisingstrukture en munisipale dienste. Geen impakstudies is egter gedoen of vir die hersonering van landbougrond na residensiële grond aansoek gedoen nie. Daar is ook geen munisipale dienste soos water, sanitasie en elektrisiteit nie.

Die betogers het intussen hul protesaksies verskerp en die polisie moes ingryp.

Die VF Plus is in gesprek met rolspelers op verskeie regeringsvlakke en sal met die hulp van die party se raadslede in Mogale City, Gautengse wetgewerlede, wat op die plaaslike regerings- en gemeenskapveiligheidskomitee dien, asook mnr. Jaco Mulder, VF Plus-parlementslid, ingryp om die probleem dringend te help oplos in die belang van alle inwoners.

Die VF Plus het inwoners van Hekpoort gevra om saam te staan en so beheer te neem oor die toekoms en veiligheid van die andersyds rustige gemeenskap.

Kontaknommer: 082 466 3786

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.