As daar werklik 'n ekonomiese verlies as gevolg van hernieubare kragopwekking is, is dit aan Eskom self toe te skryf, sê dr. Wynand Boshoff, leier van die VF Plus in die Noord-Kaap.
Volgens dr. Boshoff beweer Eskom in 'n onlangse verklaring dat hernieubare energie die landsekonomie in 2016 meer as R9 miljard gekos het. Volgens Eskom is die oorsake die hoë tariewe wat aan hernubare kragverskaffers betaal word, asook Eskom se nuwe steenkoolkragsentrales wat in produksie kom.
“Die vroegste hernieubare kragvoorsieners verdien inderdaad buitensporige tariewe. Die voordeel is dat ekonomie van skaal bereik is, wat tot kosteverlaging vir opvolgende projekte gelei het.
“As persentasie van die totale kragverbruik van Suid-Afrika is die verlies regverdigbaar, indien bekostigbaarheid van hernubare krag inderdaad daardeur bewerkstellig is. Die werklike voordeel daarvan sal deursyfer namate die goedkoper, meer onlangse hernieubare projekte in produksie kom. Dit is dus onbillik om op hierdie stadium te impliseer dat hernieubare energie die land te duur te staan kom.
“Die sterkste oordeel teen Eskom is egter sy volgehoue belegging in konvensionele kragopwekking. Die koste van hernieubare energie toon 'n langtermyn dalende tendens, in teenstelling met steenkool- en kernenergie.
“Verbruikers kan vandag reeds goedkoper sonkrag op hulle eie dakke opwek, as wat hulle dit van munisipaliteite kan koop. Europese lande het dié neiging raakgesien en vergoed verbruikers wat hulle eie elektriese opwekkings- en stoorkapasiteit skep.
“Eskom se reaksie verloor samehang wanneer hulle aan die een kant kla oor die hoë tariewe wat vir 'n klein breukdeel van hernieubare energie betaal word, en aan die ander kant oor die verlaging van hul kredietgradering as gevolg van verhoogde produksiekoste van konvensionele kragopwekking. En steeds beplan hulle om daardie vermoë uit te brei.
“Die VF Plus moedig verbruikers aan om die krag in hulle eie hande te neem en hul eie, mikroskaalse kragopwekking te skep. Dit kan Eskom uiteindelik dwing om die potensiaal van hernieubare krag te erken en te fokus op sy eie rol as voorsiener van 'n netwerk om elektrisiteit te versamel en versprei.
“Dit is veral die Noord-Kaap wat ekonomies grootliks daardeur kan baat vind,” sê dr. Boshoff.
Kontaknommer: 074-166-5540