Die kabinetskommeling soos vanaand aangekondig deur pres. Cyril Ramaphosa, bevat goeie en slegte elemente, maar oorhoofs gesien is dit ‘n duidelike aanduiding dat die president deur die ANC gevange gehou word en nie werklik sy eie stempel op die regering kan afdruk soos almal dink hy doen nie.
Alhoewel die president vanaand die onderneming gegee het dat die kabinet wel in die afsienbare toekoms verklein gaan word, het hy nou die ideale geleentheid gehad om dit te doen, en dit is jammer dat hy nie die moed of toestemming van die ANC gehad het om daadwerklik op te tree nie.
Daar is verskeie groot teleurstellings wat ernstige vrae laat ontstaan oor pres. Ramaphosa se erns om staatskaping uit te roei. Die eerste is die adjunk-president David Mabuza. Mabuza is ‘n omstrede figuur oor wie ‘n wolk hang van aantygings oor korrupsie, politieke sluipmoorde en Gupta-bande. Dit bevestig die feit dat pres. Ramaphosa die ANC bo Suid-Afrika stel.
Nog ‘n vrot appel wat in die mandjie behou is, is minister Malusi Gigaba wat in tipiese ANC-styl “herontplooi” is na die pos van binnelandse sake. Terwyl hy voorheen minister van binnelandse sake was, is dit hom juis ten laste gelê dat hy die Guptas se aansoek om Suid-Afrikaanse burgerskap versnel het.
Dit is nog ‘n aanduiding dat die ANC-stert besig is om die staatspresident rond te swaai. Dit is onaanvaarbaar en dien as bewys dat pres. Ramaphosa se dreigemente oor optrede teen staatskaping net leë woorde is.
Nog ‘n mistasting is die aanstelling van die totaal onbevoegde min. Bathabile Dhlamini wat as minister van maatskaplik ontwikkeling misluk het, en nou aangestel is as nuwe minister van vrouesake.
Sy is vandag weer gedagvaar om voor die Menseregtekommissie (MRK) te verskyn en is nie bevoeg om as minister op te tree nie. Dit is nog ‘n bewys van pres. Ramaphosa se party-lojaliteit.
Positiewe aanstellings is die terugbring van min. Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings en min. Nhlanhla Nene as minister van finansies.
Hierdie aanstellings sal meer beleggingsvertroue skep veral gesien in die lig daarvan dat die kredietgraderingsagentskappe openbare ondernemings en die bestuur daarvan geïdentifiseer het as een van die groot redes vir die afgradering van Suid-Afrika se kredietwaardigheid.
Wat polisie aanbetref, is een cowboy (Fikile Mbalula) ongelukkig met ‘n ander een, Bheki Cele, vervang. Dit is ‘n stap terug vir polisiëring in Suid-Afrika.
Op die keper beskou is dit duidelik dat die nuwe leier van die ANC en die regering steeds die belange van die ANC bo dié van Suid-Afrika stel.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216