Dit is bemoedigend dat die polisie nou self erken dat misdaad skerp toeneem en dat harde werk voorlê om dit te bekamp.
’n Groot rede vir die toename kan wees dat die polisie tydens die inperkingsperiode misdaad agterweë gelaat het en te veel fokus daarop geplaas het om inperkingsregulasies te polisieer.
Die toename in ernstige misdaad in die laaste kwartaal van 2020, soos moord (6.6%) en seksuele oortredings (1.8%) is ’n groot bron tot kommer. Altesame 12 218 mense is in dié tydperk verkrag, ’n styging van 1,5%.
Wat moord aanbetref, is dit insiggewend dat die plek waar die derde meeste moorde plaasvind, in die omgewing is waar drank beskikbaar is.
Plaasmoorde, wat in die vorige termyn ’n kommerwekkende styging van 62,5% getoon het teenoor die ooreenstemmende tydperk in 2019, was weer hoog in die maande Oktober, November en Desember. Luidens die statistiek is 19 mense in dié tydperk in agtien voorvalle vermoor.
Die gevreesde trio-misdade dui ook ’n skerp styging met motorkaping wat met 7.4% toegeneem het terwyl daar 77 meer gevalle was van rooftogte in woonhuise, ’n toename van 1,3%
Die buitensporige toename van 66,7% in rooftogte van voertuie wat kontant vervoer, en ’n toename van 34,2% in vragmotorkapings wek groot kommer aangesien dit ’n direkte invloed het op die land se ekonomiese herstel.
Kapings van gewone motorvoertuie het met 7,4% toegeneem.
Misdaad in Suid-Afrika was reeds baie hoog voor die inperking begin het en Suid-Afrika gaan in die komende jare ’n duur prys betaal vir die polisie se afskeping van gewone misdaad om Covid-19-regulasies toe te pas soos om leë strande te patrolleer.