Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gewelddadige taxi-protesaksie in die Laeveld is ekonomiese terrorisme

Die gewelddadige taxi-protesoptogte wat tans in Mpumalanga in die Laeveld woed, is onaanvaarbaar en moet stopgesit word.

Die protesoptrede het begin omdat taxi-eienaars van die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit glo ontevrede is dat 'n plaaslike busmaatskappy Buscor dieselfde roetes as die taxi's gebruik.

Taxi’s blokkeer verskeie hoofroetes rondom dorpe in Ehlanzeni – insluitend roetes na die Nasionale Krugerwildtuin – en grootskaalse beskadiging van eiendom vind plaas.

Ten minste een bus is reeds aan die brand gesteek en die meeste van Buscor se depots word deur betogers afgesper.

Die sluit van nasionale- en provinsiale paaie in die provinsie beïnvloed die ekonomie uiters negatief en klein- en groot sakeondernemings sukkel om in sulke omstandighede te funksioneer.

Dit gaan reeds moeilik met toerisme wat ook deur sporadiese diensleweringsbetogings belemmer word. Almal in die provinsie voel die gevolge daarvan en hierdie betogings kan nie bekostig word nie.

Die regering wend geen daadwerklike poging aan om 'n omgewing te skep wat gunstig is vir werkskepping en vrye handel nie.

Die VF Plus dring daarop aan dat inwoners se regte op vryheid van beweging en handel beskerm word om 'n voortbestaan vir almal te verseker.

Naas die publiek se persoonlike veiligheid moet ekonomiese veiligheid ook 'n prioriteit wees.

Privaat sekerheidsmaatskappye in samewerking met die plaaslike polisie monitor tans die situasie.

Die VF Plus sal saam met die plaaslike polisie en die stad werk om die nodige bewyse in te samel om strafregtelike klagte aanhangig te maak teen dié wat hulle skuldig maak aan gewelddadige en onwettige optrede.

Die VF Plus eis ferm optrede teen misdadige elemente tydens protesoptredes en hoop dit baan die weg om toekomstige gewelddadige optogte te demp.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.