‘n Amptenaar wat geskors is by die vorige munisipaliteit waar hy werksaam was, is nou aangestel as munisipale bestuurder van die Modimolle/Mookgophong-plaaslike munisipaliteit (Nylstroom, Naboomspruit).
Mnr. Ben Thobela is aangestel in ‘n nie-deursigtige en gebrekkige keuringsproses. Dit is ‘n sprekende voorbeeld van kaderontplooiing.
Dit is reggekry deurdat die EFF buite stemming gebly het en sodoende die ANC se keuse vir kandidaat gesteun het.
Die enigste kandidaat met die nodige munisipale bestuursondervinding en goeie diensrekord, mnr. Danger Matumane, is sodoende uitgestem met ‘n 14/10-meerderheid.
Thobela is nou aangestel as munisipale bestuurder sonder enige ondervinding en met ’n bedenklike diensrekord as geskorste uitvoerende bestuurder van infrastruktuur by die Capricorn-distriksmunisipaliteit in 2016.
Thobela en twee ander uitvoerende bestuurders van Capricorn is op voorkomende skorsing geplaas vir beweerde wangedrag. Hulle moes motiveer hoekom hul skorsing nie permanent gemaak moet word nie, maar die redes is verwerp en hulle is geskors.
Dit is ook duidelik dat die paneel by Modimolle/Mookgophong Thobela nie behoorlik geëvalueer het nie.
Die VF Plus sal by elke geleentheid sy teenkanting teen kaderaanstellings uitspreek en daarop aandring dat aanstellings op meriete geskied, ongeag velkleur of politieke agtergrond.